Sosiale media is nou ’n gebied vir ernstige navorsing

Marelize Santana -- Thu, 04/23/2020 - 14:46

Sosiale media is nou ’n gebied vir ernstige navorsing

Hoewel sommige mense dalk dink dat sosiale media net vir populêre gebruik is, het dit ’n afsonderlike studiegebied vir navorsing in eie reg geraak.

Prof Wian Erlank van die Fakulteit Regte by die Noordwes-Universiteit (NWU) sê dat daar baie oor die sosiologiese en selfs sielkundige aspekte van sosiale media geskryf is, insluitende die skynbare distansiëring wat mense beleef wanneer hulle sosiale media gebruik.

Hy sê dat dit duidelik is dat talle mense voel dat hulle die reg het om dinge op ’n ongebreidelde manier te sê en te plaas (en dit trouens ook doen). Hulle sal nooit normaalweg sulke opmerkings in hulle daaglikse omgang maak nie en besef nie dat hulle optrede regsgevolge kan hê nie.

“Daar is selfs ’n gewilde naam hiervoor, wanneer mense agter hulle sosialemedia-identiteite wegkruip en sleutelbordvegters (keyboard warriors) genoem word.”

Prof Erlank het vir die afgelope paar jaar navorsing gedoen oor die regsimplikasies van sosiale media en het al talle bydraes oor hierdie onderwerp gelewer. Hy skryf vier keer per jaar vir Juta se Quarterly Review of South African Law (JQR), en noem en bespreek nuwe hofsake, wetgewing en artikels oor sosialemediareg soos dit opduik.

“Daarbenewens het talle van my studente onder my leiding in hulle finalejaar-LLB tot op nagraadse vlak oor verskillende aspekte van sosialemediareg geskryf oor vrae soos die bewysregtelike waarde en prosedurele aspekte van die gebruik van sosiale media in die hof, en die regsimplikasies van diskriminerende stellings wat op sosiale media gemaak word.”

Nie meer ’n nuutjie nie

Prof Erlank sê dat die benadering van die howe tot aspekte van sosiale media in regsprosedures – van geskille tot die praktyk van die reg – in die meeste gevalle ontwikkel het. Terwyl sosiale media eers as ’n nuwe, dikwels moeilike regs- en feitelike aspek van ’n saak beskou is, neem die howe nou ’n meer algemene benadering in, en beskou dit as slegs een van verskeie aspekte om te oorweeg.

“In die reg het die kwessie van sosiale media oor die algemeen altyd ontwikkel sodat dit ’n nuwe beskouing oor tradisionele regskwessies verskaf.

“As jy byvoorbeeld lasterlike dinge oor jou buurman gesê het deur ’n gerug verbaal te versprei, of selfs ’n advertensie in ’n koerant te plaas, is die kwessie as ’n normale kwessie van belastering (’n onregmatige daad) hanteer. Die feit dat iemand nou ’n lasterlike stelling op sosiale media gemaak het, verander nie die manier waarop die reg hierdie kwessie hanteer nie – benewens die feit dat die gebruik van sosiale media die optrede baie sigbaarder maak, en dus ernstiger.”

Hy sê dat toe die howe aanvaar het dat bewyse uit sosiale media in die hof voorgelê kan word, en uitgewerk het hoe dit gedoen kan word, die voorkoms van ’n sosialemedia-element in die saak nie-omstrede geword het.

Pandemie lei tot kriminalisering van misbruik

“Alles het nou ietwat verander met die koms van regulasie 11(5)(c) van die Wet op Rampbestuur, wat misbruik van sosiale media as ’n diskrete kwessie kriminaliseer, ten minste waar dit die skepping of verspreiding van vals inligting oor die Covid-19-pandemie raak,” sê prof Erlank.

“Daar word nog steeds besluit of hierdie kriminalisering nie dalk in die toekoms ’n oorreaksie, onnodig of ongrondwetlik is nie – veral omdat dit duidelik met die reg op vryheid van spraak bots – en dit sal moeilik wees om te bewys of ’n persoon die ‘bedoeling gehad het om te mislei’.”

Prof Erlank sê dat alle plasings op sosialemediaplatforms gewoonlik beskou word as dat dit gelykstaande is aan iets wat gepubliseer is. Selfs as iets vir die publiek interessant is, kan dit moontlik nie in die openbare belang wees om dit te publiseer nie.

“Die feit dat iets ‘waar’ is, sal nie in alle gevalle ’n geldige verweer in ’n lastersaak wees nie.”

Prof Erlank waarsku ook dat dit basies onmoontlik is om iets van die internet te verwyder en dat mense nie fopnuus moet skep of aanstuur nie, veral nie oor die huidige virus nie, aangesien dit hulle in die tronk kan laat beland.


Prof Wian Erlank.