Soos dit die hof behaag – derdejaar-Mahikeng-studente bobaas in skynverhore

Belinda Bantham -- Wed, 08/21/2019 - 12:03

Soos dit die hof behaag – derdejaar-Mahikeng-studente bobaas in skynverhore

n Span derdejaarstudente van die Fakulteit Regte op die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Mahikeng is hierdie jaar se wenner van die gewilde jaarlikse NWU Juta-skynverhoorkompetisie wat op 20 Augustus in Potchefstroom plaasgevind het.

Die toneel: die skynhof in die Sanlam Ouditorium op die kampus in Potchefstroom; die misdaad: beweerde ontvoering van ’n baba. Die stryd was tussen twee spanne derdejaar-regstudente, bestaande uit ’n gekombineerde NWU-span van al drie kampusse en ’n span van Mahikeng. Die NWU-span het die staat verteenwoordig en die span van Mahikeng die verdediging.

Die staat het aangevoer dat ’n baba, wat in ’n verpleegkundige se sorg geplaas is terwyl die moeder in die badkamer was, wel ontvoer is.  Volgens die verdediging het die moeder, wat na bewering armlastig was, die verpleegkundige gevra om na die baba om te sien omdat sy nie kon nie. Die staat het aangevoer dat die verpleegkundige die baba sonder die moeder se toestemming geneem het en met die baba verdwyn het.

Hoewel die voorsittende regter, Leonie Windell, in die staat se guns beslis het, was dit die span van die verdediging, bestaande uit Thulisile Khoza, Teboho Madibo, Nombuso Msomi en Katlego Kekana, wat indrukwekkend genoeg was om die kompetisie te wen.

Hoewel hulle nie kon bewys dat die beweerde ontvoering nie plaasgevind het nie, het hulle entoesiasme, regsbevoegdheid en hofetiket hulle die voordeel bó die opponerende span gegee.

Die gekombineerde NWU-span wat vir die staat verskyn het, het uit Tristan Judge, Dorka Ndhlovu, Thokozani Sithebe en Nyiko Sithole bestaan.

Die wenspanne het pryse ter waarde van R60 000 gedeel.

Regter en advokaat is voorsitters

Regter Leonie Windell, ’n alumna van die universiteit, is geen vreemdeling by die NWU Juta-skynverhore nie, aangesien sy in vorige jare die voorsitter by die eindrondte was.

Dit was ook nie advokaat Mark Adams se eerste keer as voorsitter by die halfeindrondte nie.

Soos in vorige jare was hierdie jaar se skynverhore uiters gewild, met spanne van al die NWU se kampusse wat deelgeneem het. Die geleentheid is ook deur verskeie belangrike gaste uit die regsberoep bygewoon.

Advokaat se visie word beloon

Die Juta-skynverhoorkompetisie is die produk van adv René Koraan, direkteur vir professionele ontwikkeling en gemeenskapsbetrokkenheid en senior lektor in die Fakulteit Regte op die kampus in Potchefstroom, se visie. Sy het die kompetisie in 2011 begin, aanvanklik vir hierdie kampus. Sedert 2014 het dit egter tot ’n interkampuskompetisie ontwikkel. Sy het dit as ’n geleentheid beskou vir tweede- en derdejaarstudente om broodnodige ervaring op te doen.

Meer as 250 studente van al drie NWU-kampusse het vrywillig aan die kompetisie deelgeneem. “Dit is ’n uitstekende aanduiding dat hulle gretig en bereid is om te leer,” sê René.

 “Dit is duidelik dat die studente elke jaar verbeter. Wat egter hierdie jaar uitgestaan het, was die vermoë van die studente om diversiteit te omarm. Die chemie en interaksie tussen die semifinaliste was vir my die hoogtepunt. Studente het ook ekstra werk gedoen – nie net om die kompetisie te wen nie, maar om beter te wees. Ons moet nooit die impak onderskat wat kompetisies en werkswinkels soos hierdie op die ontwikkeling van jong aspirantprokureurs het nie.”

Dit was die negende jaar waarin die skynverhore plaasgevind het, en dit sal waarskynlik volgende jaar met die tiende herdenking ’n historiese gebeurtenis wees.

 


Hier is die wenspan wat met die titel van 2019 NWU Juta-skynverhoorwenners weggestap het. Hulle is Nombuso Msomi, Katlego Kekana, Teboho Madibo en Thulisile Khoza. Voor is prof Robert Balfour, adjunk-visekanselier vir onderrig en leer, en regter Leonie Windell.