Sonkar se bloed, sweet en trane was die moeite werd!

Belinda Bantham -- Mon, 03/11/2019 - 10:58

Sonkar se bloed, sweet en trane was die moeite werd!

Veelsydige kennis is die groot prys waarmee Esté Heese, ʼn oudstudent aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se Fakulteit Ingenieurswese, weggestap het nadat sy deel van die universiteit se alombekende sonkarspan was. Dit het ook haar loopbaan vandag by Eskom ʼn hupstoot gegee.


Hierdie jong ingenieur-in-opleiding staan vir geen projek of departement terug nie en skryf dié eienskap aan haar ondervinding met die Sirius X25 toe – die NWU se 2016-sonkar.

“Die sonkarprojek gee jou blootstelling aan verskillende dissiplines,” verduidelik Esté. In my huidige werksomgewing moet ek presies dit bemeester – ek moet verskillende beroepe en dissiplines betrek om take te verrig.”

Esté was drie jaar gelede deel van die dinamiese NWU-span wat die sonkarprojek tydens die Sasol Solar Challenge bestuur het. Haar take het onder meer navorsing oor die moontlike gebruik van termo-elektriese opwekkers en strategiese beplanning ingesluit.

Na afloop van dié uitmergelende resies van Pretoria na Kaapstad het die span die toekennings ingeryg. Hulle prestasies sluit in dat hulle eerste van al die Afrika-spanne en in die algeheel vierde plek oor die wenstreep kon ry, en dat hulle met die toekennings vir Tegnologiese Innovasie en die Spanprofessionaliteit en Veiligheid weggestap het.

Sy sonder egter een besonder nuttige element van die haar sonkarervaring uit – die veelsydige kennis wat sy oor verskillende velde en beroepe opgedoen het. Dit sluit selfs dissiplines in soos bemarking en die fynere kuns om toesprake te lewer en voorleggings voor te berei.

“Dié ervaring het my in staat gestel om my werk op verskeie platforms te kommunikeer, en het beslis my menseverhoudinge in die professionele werksplek versterk,” sê sy.

Esté voeg by dat sy dankbaar is vir die ondersteuningsnetwerk wat die Fakulteit Ingenieurswese haar in haar studentedae gebied het. “Die dosente is waarlik uitblinkers in hul gebied,” spog sy trots.

Sy hoor dikwels in die bedryf van haar dosente wat geraadpleeg word vir hulle spesialiskennis. “Die manier wat hulle ons geleer het om veral verslae voor te berei, vind ek vandag baie handig, veral omdat dit ’n belangrike deel van my daaglikse werk is,” vertel sy.

Esté sê haar mentors in die werksplek komplimenteer haar gereeld oor die hoë kwaliteit van haar verslae. “Hierdie vaardigheid laat my kop en skouers bo die res van die ingenieurs-in-opleiding uitstaan.”

Esté is positief oor die toekoms van ingenieurswese in Suid-Afrika en wens alle studente wat tans hierdie uitdagende veld trotseer sterkte toe. “Geniet elke oomblik! Al die bloed, sweet en trane is beslis die moeite werd. As jy ooit die geleentheid kry om deel van die sonkarprojek te wees, gryp dit aan, want dit bied jou ekstra leergeleenthede wat baie deure vir jou kan oopmaak!” sê Esté.

 

Esté Heese was deel van die dinamiese NWU-span wat die 2016-sonkarprojek tydens die Sasol Solar Challenge hanteer het. Hier is hulle saam met die Sirius X25 in al sy glorie.