Simposium oor outisme fokus op ervarings van mense met outisme

Belinda Bantham -- Thu, 06/06/2019 - 10:08

Simposium oor outisme fokus op ervarings van mense met outisme

Die Instituut vir Sielkunde en Welstand aan die Noordwes-Universiteit (NWU) en Outisme Suid-Afrika (A;SA) bied binnekort hulle vierde simposium oor outisme aan.

Die simposium, wat tot ’n nasionale gebeurtenis uitgebrei het, is nie net vir akademici en beroepslui wat met outisme werk nie, maar bied ook aan mense op die outismespektrum die geleentheid om hulle ervarings te deel.

Hierdie jaar se simposium sal op 8 en 9 Julie plaasvind, en bied steun aan families, ouers, mediesesorg-personeel, maatskaplike werkers en werkgewers wat by kinders en volwassenes op die outismespektrum betrokke is.

Om te deel gee insig in ervarings

“Een ding wat ons uit die simposiums geleer het, is dat mense wat met outisme leef, die ware kundiges is, en dat hulle bydrae waardevol is om ’n positiewe ingesteldheid ten opsigte van neurodiversiteit te bevorder,” sê Hanlie Degenaar, ʼn terapeut by die Instituut vir Sielkunde en Welstand.

Melt Olckers, ’n outistiese volwassene, dink terug aan verlede jaar se simposium en sê hy was geëerd om deel te wees daarvan. “Dit was ’n leerervaring om na ander op die spektrum te luister – nie net vir my en die ander wat deel was van die sessie nie, maar ook vir die groep studente wat na ons geluister het.”

Melt het ook besef dat, net soos mense met outisme na die kundiges moet luister, moet die kundiges ook luister. “Ons moet ’n wederkerige verhouding hê – ’n verhouding wat na albei kante toe werk. Ons kan hulle oor ons leer, en op hulle beurt kan hulle ons die vaardighede leer wat ons nodig het.”

Emile Gouws, wat outisme het en een van die sprekers by verlede jaar se simposium was, sê dat elke spreker op hulle eie, unieke manier bygedra het en gehelp het om die begrip te verbreed van mense vir wie outisme elke daag raak.

“Deur my bywoning van en spreekbeurt by die simposium was ek in die eerste plek verstom oor hoeveel opvoeders uit die breër onderwysstelsel die geleentheid bygewoon en ondersteun het,” sê Emile. “Dit het perspektief verskaf en heelwat stukrag aan my persoonlike missie as ’n voorstander van onderwys gegee om meer leerders op die outismespektrum in hoofstroomskole te plaas.”

Hy sê dat die simposium hom insig gegee het in die verskillende uitdagings en uniekheid van elke outistiese kind en ouer. “As ’n PhD-student is my aanvanklike doelwit om in outisme te spesialiseer. Deur hierdie leerervaring het my kennis gegroei en ek het ook bewus geword van die verskeidenheid en diversiteit van die diagnoses wat gemaak kan word.”

Die organiseerders van die nasionale simposium oor outisme beplan ook om versoeke vir kort, praktiese werkswinkels te akkommodeer op 6 en 7 Julie, voordat die simposium op 8 Julie begin. Die werkswinkels sal wees vir enigiemand wat belangstel om dit by te woon, en sal temas soos uitdagende gedrag, vriendskappe, leesontwikkeling, sensoriese profiele en die gebruik van sosiale stories insluit.

 Meer inligting oor die gebeurtenis is beskikbaar by die Instituut vir Sielkunde en Welstand by 018 299 1737 of IPWinfo@nwu.ac.za.

Interessante feite oor outisme

Outisme is nie ’n seldsame toestand nie. Volgens die Verenigde State se Centre for Disease Control and Prevention (CDC) word een uit 59 kinders met outismespektrumversteuring (OSV) geïdentifiseer.

Dit kom ongeveer vier keer meer onder seuns as onder meisies voor, en navorsers vind dat meisies se simptome van dié van seuns kan verskil, wat tot ’n later diagnose kan lei.

Outisme kan betroubaar op so vroeg as twee jaar gediagnoseer word, en talle ouers sal voor ’n kind se eerste verjaardag al hul bekommernis uitspreek. Die meeste kinders word egter eers na die ouderdom van vier jaar gediagnoseer.

Elke kind met OSV is uniek, en mense met OSV verskil net soveel van mekaar as alle mense.

Navorsing toon dat dit uiters algemeen voorkom dat kinders met outisme geboelie word, en bykans tweederdes van kinders tussen die ouderdom van ses en 15 jaar word geraak.

Mense op die outismespektrum leef dikwels in die oomblik, oordeel ander selde en is werklik passievol oor hulle belangstellings.

Families van jong kinders op die outismespektrum sê dikwels dat, tesame met die talle uitdagings wat ervaar word, die lewe saam met ’n familielid met outisme ’n uiters positiewe impak op hulle persepsies en oortuigings kan hê. In plaas daarvan dat hulle al die “moet”- en “behoort”-reëls van die moderne samelewing aanhang, waardeer hulle elke klein prestasie en leef in die oomblik.

’n Diagnose van outisme is ook gekoppel aan ’n groter risiko om probleme met geestesgesondheid te hê. Angs tas byvoorbeeld tussen 10% en 40% van kinders en adolessente op die outismespektrum aan.

Hoewel daar voortdurend navorsing oor nuwe behandelings vir outisme gedoen word, is geen medikasiegebaseerde behandeling al vir die kernsimptome van outisme geïdentifiseer nie. Medikasie word gewoonlik gebruik om toestande te behandel wat met outisme verband hou, soos angs.

Dit is nie só moeilik om ’n persoon met outisme te leer ken nie – gee hulle net ’n bietjie ekstra tyd om tydens gesprekke te reageer, en geniet hulle ander perspektief op die wêreld.   

 Elke jaar word ’n gebou op die NWU se kampus in Potchefstroom ten tyde van die simposium oor outisme in blou verlig om bewustheid van outisme te bevorder.