SA moet groter poging aanwend om uit ‘laegroei-strik’ te ontsnap

Belinda Bantham -- Thu, 09/06/2018 - 09:29

SA moet groter poging aanwend om uit ‘laegroei-strik’ te ontsnap

Volgens prof Raymond Parsons, bekende ekonoom aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se Besigheidskool, sal Suid-Afrika ‘n baie groter poging moet aanwend om die ‘laegroei-strik’ te ontsnap waarin die resessie dit nou gedruk het.

Hy sê die mate waartoe die jongste Bruto Binnelandse Produk-syfers vir die tweede kwartaal van 2018 bevestig dat die Suid-Afrikaanse ekonomie in ’n ‘tegniese resessie’ is, is slegte nuus vir sakevertroue en werksvooruitsigte.

“Gelukkig is daar steeds verskeie voorbeelde van krag in die ekonomie. Dit is egter duidelik dat Suid-Afrika grootliks die ekonomiese skade van die afgelope dekade onderskat het oor hoe lank dit realisties gesproke sal duur om die ekonomie en die negatiewe impak van hardnekkige vlakke van beleidsonsekerheid om te keer – soos rondom die kwessie van grondhervorming.”

Prof Parsons sê verhoging van sake- en verbruikersvertroue bly ’n belangrike sleutel as Suid-Afrika uit die “laegroei-strik” wil ontsnap waarin die resessie dit nou gedruk het.

“President Ramaphosa het met reg onlangs in Beijing gesê dat die regering nie net vir beleggers “beleidsekerheid” moet verskaf nie, maar ook “beleidskonsekwentheid”. Die ekonomiese situasie het nou dringend iemand nodig wat ’n paar grense kan trek om leierskap te laat geld, en om onsekerheid oor sleutelprosesse soos grondhervorming en die mynbouhandves te beperk. Dit is nou noodsaaklik as die amptelike onderneming om ’n gunstige beleggingsklimaat te herbou, gekonkretiseer moet word, en die ekonomie weer vooruit moet beweeg.

Hy sê die ontwikkeling van ’n ekonomiese resessie hierdie jaar en laer groeivooruitsigte wat verwag word, het ook negatiewe implikasies vir die mediumtermynbegroting se beleidsverklaring wat volgende maand op hande is as gevolg van die waarskynlike impak daarvan op belastinginkomste.

“Daar moet geen nuwe terugval in fiskale konsolidasie wees nie. Hierdie groei- en fiskale verwikkelings sal krities deur die kredietgraderingsagentskappe gemoniteer word wanneer hulle Suid-Afrika se beleggingsgradering teen die einde van 2018 weer moet hersien. Wanneer die Monetêre Beleidskomitee (MBK) later hierdie maand vergader, sal hulle die rentekoers in die lig van die swak ekonomie weer onveranderd moet laat, net soos hulle by hulle Julie-vergadering die geskatte groeivooruitsig vir 2018 van 1,7% na 1,2% aangepas het.

Volgens prof Parsons het die aanvanklike positiewe reaksie op die onlangse politieke veranderings nou verdamp, maar moet vervang word met ’n realistiese besef van wat nodig is om ’n groter, sterker en beter ekonomie te bou. Hy sê die jongste groeisyfers en die huidige ekonomiese vooruitsig plaas die naderende beleggingsberaad dus onder die soeklig as een platform wat moontlik gebruik kan word om ekonomiese persepsies ten goede te verander.

“As Suid-Afrika sy boodskap aan beleggers wil heraanpas, sal deelnemers aan die beraad openlik moet praat, en moet daar meer sigbare samewerking deur sleutelbelanghebbers wees oor wat gedoen moet word. Dit sal beteken dat daar groter konsensus onder belangrike besluitnemers in die ekonomie moet wees oor hoe om uit die ‘laegroei-strik’ te ontsnap waarin die land homself nou bevind, en om ’n hoër groeitrajek te bereik.”