Remembering Prof Claassen

Belinda Bantham -- Fri, 05/15/2020 - 08:23

Ek onthou prof Claassen

Sy voetspore lê soos dié van ’n kolossus in die rooi, ryk aarde van die ou Wes-Transvaal, hierdie enigma van ’n man. Hard en ontoegeeflik, tot die uiterste toe toegewyd. Sy naam was dekades lank in rugbykringe regoor die wêreld as ’n reus van die spel bekend.

En ek kon een keer sy baadjie aantrek.

In die amateurdae van die sport – toe “messelaar” jou aangewese beroep was en “rugbyspeler” iets was wat jy as stokperdjie beoefen het – was professor Johannes Theodorus Claassen ’n steunpilaar van die XV-man-kode en is net deur Dok Craven in die skadu gestel.  Nieu-Seeland se Speler van die 20ste eeu, Colin “Pine Tree” Meads, het hom die beste slot genoem teen wie hy nog ooit gespeel het. Ja, selfs beter as Frik. Hy was ’n Springbokspeler, ‑kaptein, -afrigter, -bestuurder, -administrateur en -keurder. Hy het tussen 1955 en 1962 28 toetse vir die Springbokke gespeel en was nege keer kaptein van die span. 

En ek kon een keer sy baadjie aantrek.

Hy het self gesê dat hy ’n moeilike man was – iets waaroor hy later in sy lewe berou gehad het.  Ek weet dit omdat hy dit vir my gesê het toe ons ’n paar jaar gelede in sy sitkamer in Potchefstroom gesit en gesels het. Dit was nie ’n onakkurate beoordeling van homself nie, want dit was hoe hy bekend was, maar deel alle mans met ’n enkele doel voor oë nie maar daardie eienskap nie?

Hy het my vermaak met stories van die berugte meelbomtoer na Nieu-Seeland toe die druk van betogers onversetlik was. Die Springbokke moes voor toetse vir hulle eie veiligheid by die stadions slaap. Dit was op die hoogtepunt van apartheid, en die spelers het – talle van hulle vir die eerste keer – die snydende haat ervaar wat hierdie beleid in die internasionale gemeenskap ontlok het.

Tydens die derde en finale toets in Auckland het Marx Jones en Grant Cole ’n eenmotorige Cessna 172 gehuur – gewapen met meelbomme, fakkels en antitoerpropaganda. Die vliegtuig het herhaaldelik laag oor die veld gedraai en sy arsenaal laat val, en so chaos veroorsaak. Dit was oorlog.

Hy het my van sy memorabilia gewys, insluitende ’n tekening van daardie 1981-groep, waarvan hy die spanbestuurder was. Hy het vir my ’n Springbok-lapelwapentjie gegee, wat ek tot my groot spyt verloor het.

Ten minste kon ek een keer sy baadjie aantrek.

Hy het volgens sy geloofbeginsels gelewe en hy het verwag dat die deugde wat vir hom belangrik was deur sy spelers weerspieël moes word, veral deur sy kaptein. Hy het drank gehaat en as hy voor ’n oefening hierdie gif by een van spelers geruik het, het hy seker gemaak dat hulle elke laaste druppel uitsweet.  Prof Claassen was ’n dosent in Bybelkunde by die destydse PU vir CHO, nou die Noordwes-Universiteit, en sy lewenslange affiliasie met hierdie instelling en met die Wes-Transvaalse rugby-unie beteken dat, wanneer die NWU se Rugby-instituut jaarliks sy speler van die jaar aankondig, daardie speler die Johan Claassen-trofee ontvang. 

Prof Claassen is in Januarie 2019 op die rype ouderdom van 89 jaar oorlede. Waarom onthou ek hom nou? Die staat van inperking. Boeke oor die geskiedenis van Springbokrugby en selfs die Britse en Ierse Leeus is getroue vriende. Prof Claassen is prominent in elkeen van hulle teenwoordig. Die ontsag vir hom wat uit verhale na vore kom, is konstant, en ek kan nie help om die dag te onthou toe ek hom besoek het nie. Ek kan ook nie help om te onthou hoe hy sy spyt uitgespreek het nie.

Toe ons tyd saam verby was, is ons na sy garage toe. Ek was huiwerig om te vra, maar hy het onmiddellik my versoek toegestaan om een van sy Springbokbaadjies aan te trek. Hy het trots gelyk toe hy hierdie heilige kledingstuk oor hierdie onwaardige indringer se skouers hang.

Dit is ’n herinnering wat ek koester. Prof Johan Claassen het dalk berou ervaar, maar hiervan is ek seker: niemand wat deur sy invloed gevorm is, of die voorreg gehad het om sy onderrig te ontvang, het ooit daardie ervaring berou nie.

Deur Bertie Jacobs

 Ná Dok Craven, die grootste