Rekords val voor NWU-kolwe

Belinda Bantham -- Tue, 11/21/2017 - 12:24

Rekords val voor NWU-kolwe

Dit is nie net die reën wat die afgelope paar weke reëlmatig in Potchefstroom neerval nie, daar is ʼn vloed van lopies ook.

Kom ons stel dit anders:daar is ʼn ongekende, voorheen ongesiende stortvloed van lopies.

Die krieketspan van die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Potchefstroom is besig om ʼn skrikbewind in die 50-beurt Noordwes Premierliga te voer.

Eers het dié span op hul tuisveld ʼn reusagtige 504/8 teen Lichtenburg gemoker, met André Malan (172) en Michael Enslin (89) wat die septer vir die wenspan (was daar ooit ʼn twyfel?) geswaai het. Lichtenburg was vir ʼn skamele 57-lopies uitgeboul wat beteken dat die NWU met ʼn allemintige 447-lopies geseëvier het.

Dit was egter net ʼn voorsmakie van wat sou kom. Op Saterdag 18 November het die 20-jarige Shane Dadswell die rekordboeke herskryf deur 490 lopies van net 151 aflewerings in dieselfde reeks teen Potch Dorp te slaan. Dit het 57 sesse en 27 grenshoue ingesluit. Wat ʼn absoluut ongelooflike vertoning. Dit is natuurlik ook ʼn wêreldrekord wat krieketliefhebbers se tonge regoor die wêreld los het.

Veral in krieketmal Indië het die regterhandse Dadswell opskrifte gehaal in onder andere die Times of India, The Indian Express en die Hindustan Times, wat vol lof vir Dadswell en sy kanonkolf was. Sy naam is nou so ver as Nieu-Seeland bekend en dit pronk ook op elke gesaghebbende krieketwebtuiste. Die vorige hoogste telling in ʼn amptelike 50-beurt wedstryd was 268 deur Ali Brown vir Surrey.

Werklikwaar merkwaardig.