Radiobedryf klink 'n glasie op Charonike

Belinda Bantham -- Thu, 05/18/2017 - 09:35

Radiobedryf klink 'n glasie op Charonike

Sy palm toekennings met reëlmate in. Nee, om haar naam te hoor voor sy op die verhoog geroep word, is niks nuuts vir Charonike Nel, PukFm 93.6 – die radiostasie op die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Potchefstroom – se stasiebestuurder nie.

Tydens die onlangse Liberty Radiotoekennings op 22 April by die Sandton Convention Centre het PukFm met 12 nominasies die aand binne gegaan en met vier toekennings weggestap. Dit was die meeste nominasies in die stasie se ryke geskiedenis en het ʼn nominasie vir Stasie van die Jaar ingesluit.

Charonike se breinkind en waarvan sy ook die aanbieder is, Rooiwynsondag, was as die Beste Naweekprogram aangewys asook as die Beste Musiekprogram. Daarbenewens was Charonike as lid van die Bright Stars Klub ingewy. Hierdie klub vereer persone onder 35 wat ʼn noemenswaardige bydra tot die bedryf gemaak het. Nog ʼn lid van die PukFm-span, Annelu le Roux, het die toekenning vir die beste ‘Daytime Show’ ingepalm vir die program PUKfm International Top 40.

Vrydagaand 12 Mei was haar naam, nes verlede jaar, uitgeroep toe sy ’n ATKV Veertjie as Beste Aanbieder van ʼn Kampusradioprogram gewen het.

“Dis mal. Mens is nog half eufories oor die vorige wen, dan gebeur hierdie. Wat vir my ongelooflik was, was toe my naam as die wenner aangekondig word en al die NWU-alumni in die gehoor spontaan begin hande klap. Mens werk hard, maar jy vergeet van die wêreld daar buite. Mens vergeet daar is mense wat kyk wat jy doen. Om erken te word vir iets wat nie vir jou ʼn werk is nie, vir iets wat vir jou ʼn passie is,” vertel Charonike.

En Rooiwynsondag is gewis haar passie.

“Wat die program anders maak, is dat dit intiem is. Van 21:00 tot 24:00 elke Sondagaand is dit die naaste wat mens kan kom om een-tot-een met iemand se hart te gesels. Verlede jaar was daar ʼn groep van omtrent 15 studente wat die laaste drie weke voor hulle die NWU verlaat het, elke Sondagaandaand met komberse en wyn voor die kantoor kom sit en Rooiwynsondag geluister het. Hulle het mekaar in hul eerstejaar oor Rooiwynsondag ontmoet en dit was deur die loop van hul universiteitsloopbaan deel van hul vriendskap. Daar is 18 000 mense wat PukFm luister, maar met Rooiwynsondag praat jy met een persoon.”

Hoewel daar nie ʼn tekort aan belangstelling vir haar dienste is nie, sê die 26-jarige boorling van Piet Retief dat haar wortels in Potch-grond geanker is. “Vir die verre toekoms is my loopbaan hier by die universiteit. Om op grondvlak met studente te kan werk is vir my ʼn onbeskryflike voorreg. Dit is iets wat ek vir niks sal verruil nie.”

Charonike Nel, PukFm 93.6 se stasiebestuurder, spog met ’n ATKV Veertjie as Beste Aanbieder van ʼn Kampusradioprogram.