Qumbu gaan rugbyprinsesse in koninginne omskep

Belinda Bantham -- Fri, 10/12/2018 - 11:39

Qumbu gaan rugbyprinsesse in koninginne omskep

Met die hulp van Timothy Qumbu kan die “prinsesse” van die Springbok-vrouerugbyspan binnekort die “koninginne” van die spel word.

Ja, dit is waar dat ons vrouespan nog nie teen spanne soos dié van Nieu-Seeland of Engeland kan meeding nie, en dit kan toegeskryf word aan die amateur-aard van die kode in Suid-Afrika.  

Dit is ook ʼn feit dat vrouerugby wêreldwyd blom. In ’n sportmal-land soos Suid-Afrika is dit noodsaaklik om teen die beste mee te ding.

Die sleutel tot sukses is om permanente professionele sportlui in die nasionale arena te hê – iemand soos Timothy. Deur hom by te voeg het hulle nou ’n krag- en kondisioneringsafrigter met ’n passie vir die spel soos min ander.

Timothy het onlangs die Noordwes-Universiteit (NWU) se Skool vir Biokinetika, Rekreasie en Sportwetenskap vaarwel geroep om permanent by SA Rugby aan te sluit.

In samewerking met afrigter Lawrence Sephaka, ’n voormalige Springbok-stut, wil Timothy die nasionale vrouespan omskep in een op wie daar ag geslaan kan word. Hy sal ook deel van die nasionale vrouesewes-opset wees.

“Ek is geseën met die geleentheid om die Springbok-vrouerugbyspan en die vrouesewes-span permanent af te rig,” sê Timothy.

“Ek sal die NWU altyd dankbaar bly dat hulle my die kans gegun het om ’n impak op studente se lewens te maak – as dosent en as sportwetenskaplike.”

As speler was Timothy ’n belowende heelagter, totdat ’n ernstige kniebesering sy loopbaan gekortwiek het. Nou is hy gereed om ander te help om hulle droom te bereik om hulle land te verteenwoordig in die sport waarvoor hulle lief is.

Vir Bongani Timothy Qumbu is daar geen groter beloning nie. 

Timothy Qumbu