Qatar Airways se verbod die teken van toekomstige dinge

Belinda Bantham -- Thu, 06/15/2017 - 08:37

Qatar Airways se verbod die teken van toekomstige dinge

Terrorisme is die grootste bedreiging wat die internasionale toerismesektor in die gesig staar. Só sê professor Melville Saayman van die navorsingseenheid TREES (Toerismenavorsing in Ekonomiese Omgewings en die Samelewing) aan die Noordwes-Universiteit (NWU).

Saoedi-Arabië, die Verenigde Arabiese Emirate en Bahrein het op 5 Junie bande met Katar verbreek en die land se steun aan ekstremistiese groepe as die rede aangegee. Dit sluit in dat Qatar Airways uit hulle lugruim verban is.

Reisigers is gekonfronteer met reiskomplikasies soos langer en vertraagde vlugte in hierdie streek. Daarbenewens is daar ’n toenemende nasionalistiese verskuiwing in Europa, en ’n woedende debat in die VSA oor die gebruik van skootrekenaars en ander elektroniese toestelle op kommersiële vlugte. Donald Trump se aandrang op ’n reisverbod kompliseer sake selfs verder.

Die wêreld is bang en diegene wat regoor die wêreld reis, is onder dié wat die meeste geraak word.

“Dit kan nie meer beklemtoon word hoe erg die tallose terrorismeaanvalle regoor die wêreld die toerismesektor geraak het nie,” sê prof Saayman. “Ek vermoed dat ons ’n paradigmaskuif in die toerismesektor gaan begin sien. Ons sal nie meer gaan waarheen ons gewoonlik gegaan het nie, ons sal nie dieselfde roetes gebruik nie, ons sal nie die plekke besoek waaroor ons vantevore mal was nie. Van musiekuitvoerings tot restaurante – alles het teikens geword. Om te herhaal, daar is geen groter bedreiging vir toerisme as terrorisme nie.”

Hy het voortgegaan om te sê dat dit nie net die Midde-Ooste is wat erge gevolge ervaar nie, maar dat Afrika ook in die gedrang is.  

“Dit is nie net ISIS nie; dit is hulle ander affiliasies en soortgelyke ekstremistiese groepe soos Boko Haram wat kan veroorsaak dat lande soos Nigerië ernstige gevolge vir toerisme kan ervaar,” waarsku prof Saayman. “Beletsels soos die een wat op Katar en Quatar Airways opgelê is, dien as waarskuwing; ’n afskrikmiddel vir lande wat nie genoeg doen om terrorisme binne hulle grense hok te slaan nie. Die snelheid waarmee hierdie verbod plaasgevind het, maak die deur vir soortgelyke optrede wyd oop.”

Dit is egter ’n hartseer toedrag van sake.

“’n Verbod soos hierdie straf die groter toerismebedryf en veral lande wat van toerisme afhanklik is. Dit is soos sanksies waar jy die mense straf wat dit die minste verdien. Op hierdie manier speel ons in die terroriste se hande.”

 

 Prof Melville Saayman.