Prof Linda du Plessis: nou is die tyd vir samehorigheid en gebed na skool tragedie

Belinda Bantham -- Fri, 02/01/2019 - 13:50

Prof Linda du Plessis: nou is die tyd vir samehorigheid en gebed na skool tragedie

Die adjunk-visekanselier (AVK) van die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark, prof Linda du Plessis, het ‘n boodskap van medelye en ondersteuning aan Hoërskool Driehoek gestuur na afloop van die tragiese gebeure by dié skool op Vrydag, 1 Februarie 2019:

Ons staan verslae na afloop van die tragedie wat vanoggend by die Hoërskool Driehoek afgespeel het. Ons diepste meegevoel met die skool en die families van die oorledenes. Ons beste wense vir spoedige beterskap aan diegene wat beseer en getraumatiseer is. Die NWU het ʼn lang en kosbare verhouding met die personeel en leerders by Hoekies en staan saam met hulle in hierdie hartseer tyd. Daarom het ons personeel van die gesondheidsorgsentrum op die kampus in Vanderbijlpark gestuur om op die toneel bystand te verleen. Die beraders op ons kampus staan verder by om enige leerders, personeel of naasbestaandes met trauma-berading behulpsaam te wees.

Dit is in tye soos hierdie wat ons sterk moet staan vir ons gemeenskap en die diegene wat direk deur die tragedie geraak is, te help om staande bly. Mag ons hande vat, ons harte oopmaak en ons gebede opnuut opdra aan ons vriende by Hoërskool Driehoek.

* Die hoërskool is na aan die Vanderbijlparkkampus geleë. Baie huidige studente en alumni van die universiteit het hulle sekondêre onderrig aan die Hoërskool Driehoek ontvang terwyl verskeie NWU alumni in diens van die skool staan.