Prof Lebo Seru het groot drome vir nanotegnologie

Marelize Santana -- Thu, 08/29/2019 - 15:13

Prof Lebo Seru het groot drome vir nanotegnologie

Daar is niks kleins aan prof Lebogang Katata-Seru se idees nie. Sy werk tans as medeprofessor in analitiese chemie op die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Mahikeng, en is die direkteur vir die Skool vir Fisiese en Chemiese Wetenskappe. Sy glo dat talle van die land se uitdagings deur nanotegnologie opgelos kan word.

Nanotegnologie is die wetenskap van klein voorwerpe met ’n grootte wat van 0,1 tot 1 000 nm wissel. Dit kan op verskeie gebiede soos water, medisyne, elektronika, energie, die omgewing, voedsel, en materiale toegepas word. Nanotegnologie kan help met die vervaardiging van nuwe, vinniger, goedkoper produkte wat talle probleme in die wêreld kan oplos.

Realiteite van die vierde industriële revolusie

Prof Seru voeg by dat nanotegnologie tegnologie vir die vierde industriële revolusie is wat kan help om Suid-Afrika se sosio-ekonomiese struikelblokke aan te durf.

 “Ek is in 2008 as postdoktorale genoot by die WNNR in Pretoria vir die eerste keer deur die nanotegnologie-gogga gebyt.”

Prestasies

Toe sy by die WNNR was, het sy ’n toekenning van ICS-UNIDO (Trieste, Italië) vir ’n ses maande lange genootskap op die gebied van nanomedisyne ontvang.

Prof Seru het in Februarie 2009 die WNNR se vestigingsfonds vir Jong Navorsers vir drie jaar ontvang om aan die hoof te staan van werk in nanomedisyne om ’n nuwe nanomiddelleweringstelsel te ontwikkel om die huidige behandeling van MIV/Vigs te verbeter.

Sy het ook met prof Alejandro Sosnik saamgewerk ná die verkryging in 2011 van die NNS se SA-Argentinië bilaterale befondsing vir ’n MIV/Vigs-projek wat die deeglike karakterisering van die farmakokinetika van efavirenz-gelaaide polimeriese nanodeeltjies moontlik gemaak het.  

Alles deel daarvan

Sedert sy in 2012 by die NWU aangesluit het, het prof Seru vanaf Junie 2015 tot Desember 2017 as vakhoof van die voormalige Chemie-departement gedien, en was sy die waarnemende direkteur van die Skool vir Fisiese en Chemiese Wetenskappe.

Haar navorsingsbelangstellings behels tans die ontwikkeling van kostedoeltreffende nanomateriale vir verskillende aanwendings in MIV/Vigs, waterbehandeling en in die landbousektor.

Toekomsgerigtheid  

Prof Seru staan aan die voorpunt van opwindende navorsing wat nie net die NWU nie, maar die wêreld vorentoe gaan neem. “Die navorsingsgroep se fokusarea is die nanoformulering van verskillende verbindings wat gebruik kan word vir moontlike aanwendings, soos onder andere vir die behandeling van water en geneesmiddelaflewering.

“Die werk wat deur ’n PhD-student gedoen is, het daarin geslaag om setpille, wat met lopinavir-nanodeeltjies gelaai is, te ontwikkel en te evalueer vir die moontlike pediatriese behandeling van MIV, en wat ’n alternatiewe lewering vir mondelikse en intraveneuse toedienings wil bied.”

 Sy sê nanotegnologie kan eties en wettiglik aangewend word om ’n bydrae te lewer tot die uitdagings wat Suid-Afrika in die gesig staar deur verskillende instrumente te verskaf om kwessies soos armoede, toegang tot elektrisiteit, gesondheidsorg en skoon water aan te pak.

“Dit is al met sukses in verskeie bedryfsektore toegepas, byvoorbeeld in die gebruik van nanomedisyne, wat nanotegnologie met biomediese farmaseutiese wetenskappe kombineer. Eligard® is een van die nano- farmaseutiese produkte wat kommersieel beskikbaar is en vir die behandeling van gevorderde prostaatkanker gebruik word.”

Prof Lebo Seru.