Prof Eno se gradering spring van C1 tot B3

Marelize Santana -- Wed, 03/29/2017 - 11:28

Prof Eno se gradering spring van C1 tot B3

Die Nasionale Navorsingstigting (NNS) het aan prof Eno Ebenso, waarnemende viserektor vir navorsing en beplanning op die Mafikengkampus, ’n B3-gradering gegee vir die internasionale erkenning wat hy in chemie geniet.

Eno is een van agt NWU-navorsers wat onlangs ’n hoër gradering ontvang het. Hy was voorheen ’n C1-gegradeerde navorser en sy nuwe B3-gradering bevestig sy internasionale status ten opsigte van chemiese navorsing oor korrosiestremming.

Die NNS ken ’n B3-gradering toe wanneer alle beoordelaars saamstem dat die wetenskaplike aansienlike internasionale erkenning geniet vir die hoë gehalte en impak van hulle jongste navorsingsuitsette, en indien sommige van die beorodelaars aandui dat die navorser ’n gerekende internasionale kundige in die betrokke veld is.

Eno blink uit met sitate

Sedert 1996 het Eno 5 406 sitate in die Scopus-soekenjin van Elsevier Science gehad. Volgens die Elsevier SciVal Insights-verslag van 2010 tot 2015 het hy ’n sitaatimpak van 10% bo die wêreldgemiddelde.

Hy is ook die tweede produktiefste skrywer op die gebied van korrosiestremming wêreldwyd, en sy publikasies word die vyfde meeste wêreldwyd in die veld van korrosiestremming afgelaai. Sy Google Scholar-sitate sedert 2011 staan op 8 307, met ’n H-indeks van 51 en ’n i10-indeks van 143.

Eno spesialiseer in fisiese chemie, korrosiewetenskap, kontemporêre materiaalwetenskap en kwantum chemiese modellering. Hy het sy PhD in Fisiese Chemie aan die Universiteit van Calabar in Nigerië verwerf.

Hy het artikels in ’n totaal van meer as 200 plaaslike en internasionale eweknie-beoordeelde tydskrifte gepubliseer. Sy kundigheid is in koerantartikels geloof en hy is genooi om hooflesings by verskeie internasionale universiteite te lewer.

Bekroonde internasionale kundige

Eno se roemryke akademiese loopbaan het tot sitate in die beroemde Marquis Who’s Who-gidse gelei. Hy is in die 2003/04 en 2006/07 Marquis Who’s Who in American Education, die 2006 Who’s Who in Science and Engineering en die 2006 Who’s Who-wêreldgidse gemeld. Die reeks gidse is sedert 1899 die standaard vir betroubare en omvattende biografiese data.  

Eno is deur die Internasionale Biografiese Sentrum vir die 21ste-eeuse toekenning vir prestasie in Chemie benoem.  Hy is ook in 2010 as die internasionale wetenskaplike van die jaar aangewys.

Sy passie vir sy gebied het daartoe gelei dat hy tot die redaksie van bekende tydskrifte soos die Research Journal of Chemical Sciences, die Journal of Materials and Chemistry, die Journal of Chemica Acta, Advances in Materials and Corrosion, die Journal of Applied Chemistry en die Journal of Theoretical Chemistry verkies is.

Eno is ’n uitstekende voorbeeld van ’n wetenskaplike wat aktief by sy veld betrokke is. Hy is beoordelaar van meer as 30 tydskrifte in chemie en materiaalwetenskap, en dien in talle professionele wetenskaplike liggame. Dit sluit die Chemical Society of Nigeria (MCSN), American Chemical Society (MACS), New York Academy of Sciences, National Geographical Society, Nigerian Corrosion Society, Society for the Advancement of Electrochemical Science & Technology (SAEST), International Society of Electrochemistry, Chemical Society of Ethiopia, South African Chemical Institute (MSA Chem I) en die Suid-Afrikaanse Raad vir Natuurwetenskaplike Beroepe (SACNASP) in. Hy is ook ’n genoot van die Royal Society of Chemistry van die Verenigde Koninkryk en ’n lid van die Academy of Science of South Africa (ASSAf).

Lees in ons volgende uitgawe van Navorsing@NWU meer oor ’n paar van die ander navorsers wat B-graderings ontvang het.


Prof  Eno Ebenso het onlangs ’n B3-gradering van die Nasionale Navorsingstigting vir die internasionale erkenning wat hy in chemie geniet, ontvang.