Prioritisering van fisieke aktiwiteit op wêreldvlak

Belinda Bantham -- Mon, 11/04/2019 - 12:40

Prioritisering van fisieke aktiwiteit op wêreldvlak

Tydens die tweede kongres van die BRICS-raad vir oefening en sportwetenskap (BRICSCESS) wat onlangs in Kaapstad gehou is, is die Noordwes-Universiteit (NWU) se prof Hans de Ridder as die nuwe voorsitter van hierdie wêreldwye organisasie benoem. 

Die doel van BRICSCESS is om kommunikasie, interaksie en samewerking onder alle akademiese en navorsingsinstellings, universiteite, navorsers en studente op die gebied van oefening wat met oefening- en sportwetenskap verband hou, en in opvoedkundige, wetenskaplike en navorsingsinstellings in die BRICS-lande te bevorder. BRICSCESS wil in die besonder kommunikasie onder jong navorsers, toekomstige leiers en studente in die BRICS-lande bevorder en fasiliteer.

Prof De Ridder is slegs die tweede voorsitter in die geskiedenis van die organisasie. Hy is tans die direkteur van die Skool vir Menslike Bewegingskunde aan die NWU en ook ’n C1-gegradeerde navorser by die Nasionale Navorsingstigting van Suid-Afrika. Die nuwe sekretaris-generaal van BRICSCESS is prof Ricardo Uvinha van Brasilië wat prof De Ridder, wat voorheen hierdie posisie beklee het, sal vervang.

BRICSCESS is die uitkoms van ’n idee wat ontstaan het tydens die 18de internasionale wetenskapkongres wat in 2014 in Kasakstan gehou is. Die raad is op 17 Oktober 2015 onder die gesamentlike leierskap van prof Ming-Kai Chin van China, prof De Ridder en prof Ricardo Uvinha van Brasilië formeel gestig tydens ’n vergadering by die Manav Rachna Internasionale Universiteit in Delhi, Indië. Die ander twee stigterslede is prof Gulshan Khanna van Indië en prof Maria Abulkhanova van Rusland.

Wat die toekoms van BRICSCESS betref, het prof De Ridder die volgende visie: “Met die BRICS-lande wat 42% van die wêreld se bevolking uitmaak, is dit uiters belangrik dat ons organisasie op die belangrikheid van oefening en fisieke aktiwiteit vir die gesondheidstatus en totale welstand van ons BRICS-nasies fokus.

“Selfs belangriker is die bevordering van fisieke aktiwiteit onder ons jong mense in die BRICS-lande. Vetsug onder kinders is vir ons ’n groot bekommernis, en ons moet ons kinders van ’n vroeë ouderdom af leer om te oefen, gesond te eet en oor die algemeen gesond te wees. Hulle is ons toekoms, en as ons ons kinders faal, het ons geen toekoms nie,” sê hy.

Die 2021 BRICSCESS-konferensie sal by die East China Normal University in Sjanghai in China aangebied word met prof Xiaozan Wang as gasheer.

Prof Hans de Ridder (regs) met die uittredende BRICSCESS-voorsitter, prof Ming-Kai Chin van Hong Kong.