Pretty is pure inspirasie

Belinda Bantham -- Tue, 09/12/2017 - 12:47

Pretty is pure inspirasie

Is sy dalk Suid-Afrika se grootse opera-ster sedert Mimi Coertze? Indien nie reeds nie, is alle aanduidinge dat Pretty Yende wel dié mantel deur die loop van haar loopbaan sal dra. Die 32-jarige boorling van Mkhondo (Piet Retief) in Mpumalanga het onlangs by die Noordwes-Universiteit (NWU) se Skool vir Musiek op die kampus in Potchefstroom sang- en musiekstudente kom toespreek.

“Dit was ʼn wonderlike geleentheid en ʼn groot voorreg om Pretty by die Skool vir Musiek te kon ontvang,” sê Antoinette Oliver, sangdosent. “Haar lewensverhaal is absoluut inspirerend en vir ons almal ʼn toonbeeld van wat jy met harde werk, deursettingsvermoë en selfvertroue kan vermag.”

Pretty het in ʼn blomtydperk van drie jaar (2009, 2010 en 2011) reeds die opera-wêreld laat regop sit en kyk toe sy onderskeidelik die Internasionale Hans Gabor Belvedere Sangkompetisie in Wene, die Vincenzo Bellini Internasionale Kompetisie en die Wêreld Opera Kompetisie, Operalia, in Moskou gewen het.

Hierna het haar ster die hoogtes ingeskiet. Eers het sy die rol van Musetta in Giacomo Puccini se befaamde opera La Bohème in Milaan gesing, waarna die rol van Adèle in Gioachino Rossini se Le comte Ory in New York gevolg het. Sy was Susanna in Mozart se The Marriage of Figaro, Rosina in The Barber of Seville en Lucia in Lucia di Lammermoor.  

Dit is nie net haar landsgenote wat Pretty se opkoms volg nie en dit is beslis nie net binne ons grense waar sy opskrifte haal nie. So onlangs soos 4 September het die New York Times ʼn profiel oor haar gedoen, getiteld “Pretty Yende Unmasks a Promising Opera Career”. Sy spog ook met twee albums op haar kerfstok, naamlik A Journey en Dreams

Pretty is tans besig om voor te berei vir die rol van Marie in Donizetti se opera La fille du régiment wat sy later vanjaar is Seville, Spanje op die verhoog sal vertolk. Sy het saam met Maestro Kamal Khan in Potchefstroom geoefen, met laasgenoemde wat meestersklasse vir die studente van die Skool vir Musiek aangebied het. Kamal is ʼn internasionaal erkende pianis, afrigter en dirigent. 

 Die operaster Pretty Yende het onlangs die NWU besoek. Hier is van links dr Conroy Cupido, Jana Mathee, Pretty Yende, Kamal Khan, Antoinette Olivier en dr Santisa Viljoen.