Pirates-finaal wag op die NWU

Belinda Bantham -- Wed, 09/04/2019 - 09:39

Pirates-finaal wag op die NWU

Die eerste rugbyspan van die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Potchefstroom en verdedigende kampioene is deur na die finale rondte van die Pirates Grand Challenge nadat hulle vir Roodepoort in Alberton met 41-16 geklop het.

Burger van der Westhuizen is die span se afrigter, en hy het geen bekendstelling by rugbyondersteuners in Noordwes nodig nie.

Die NWU het boaan die punteleer geëindig nadat hulle vir die Universiteit van Johannesburg in hul voorlaaste wedstryd voor die semifinaal geklop het, en sal nou teen Wits Universiteit in die finaal te staan kom.

Burger verdien groot lof, nadat hy gewys het dat daar geen einde aan sy rugbyvernuf is nie. Hy het nie net die NWU se o21-span tot groot hoogtes gelei nie, maar was ook deel van die Luiperds se afrigtingspersoneel, en het as afrigter die NWU se manskoshuis Patria tot by die Varsity-kroon gelei.  

Dit was ’n wonderlike jaar vir rugby by die NWU. Die eerste span het hierdie jaar derde op die algehele punteleer van die Varsity-beker geëindig, en die voormalige NWU-staatmaker, Lood de Jager, is vir die tweede agtereenvolgende IRR Rugby Wêreldbeker by die Springbokgroep ingesluit.