Phoenix herrys by die NWU

Marelize Santana -- Thu, 09/20/2018 - 19:59

Phoenix herrys by die NWU

’n Phoenix het uit die as van Naledi herrys. Die Noordwes-Universiteit (NWU) se nuwe sonkragmotor van die Fakulteit Ingenieurswese, Phoenix, is besig om sy vere te pof en sy vlerke te sprei tydens die Sasol Solar Challenge wat op 22 September in Pretoria begin en in Stellenbosch eindig.

Die NWU was in 2016 die ster van die Solar Challenge en twee jaar later, nadat die vorige weergawe van die motor, Naledi, aan die 2017 Bridgestone World Solar Challenge in Australië deelgeneem het, is Phoenix reg om die mantel oor te neem.

Toetsing het eers by Bela-Bela plaasgevind, waarna spanne na die land se hoofstad verskuif het. Die eerste deel van die toetsing het statiese voorrenondersoeke behels. Bestuurders moes mediese toetse ondergaan en die meganiese, elektriese en batterygedeeltes van die motor is getoets. Die span het die statiese voorrenondersoeke geslaag. Daarna het die motor dinamiese toetsing deurloop en hulle het hierdie fase van die toetsing ook geslaag.  

Nou kan die pret begin. Phoenix het ’n unieke, ligte ontwerp met ’n swaartepunt wat nader aan die voorkant van die motor is. Met ’n nuwe suspensie, stuurmeganisme en baanbrekersagteware wat ontwerp is om telemetrie te meet, asook ’n span wat oorloop van entoesiasme, sien Phoenix daarna uit om die NWU se 2016-prestasies te verbeter. Dit het die langste daaglikse afstand deur ’n Suid-Afrikaanse span en toekennings vir professionalisme, veiligheid en verdienste ingesluit.

Die NWU sal julle gedurende die verloop van die resies van Phoenix se vordering op hoogte hou.

Kyk na ʼn video van die sonkar: