Ontluikende wetenskaplikes gaan met Nobelpryswenners skouers skuur

Belinda Bantham -- Tue, 03/13/2018 - 10:12

Ontluikende wetenskaplikes gaan met Nobelpryswenners skouers skuur

Twee buitengewone jong navorsers van die Noordwes-Universiteit (NWU) gaan op ’n lewensveranderende reis na Lindau in Duitsland vertrek, waar hulle met Nobelpryswenners sal skouers skuur.

Edith Phalane en Blessing Ahiante van die Hipertensie in Afrika-navorsingspan (HART) is twee van slegs ses jong wetenskaplikes in Suid-Afrika wat die 68ste Lindau Nobelpryswennersbyeenkoms in Junie gaan bywoon.

Slegs 600 van die hoogs gekwalifiseerde jong wetenskaplikes uit 84 lande is gekies om deel te neem aan hierdie jaar se byeenkoms, wat op fisiologie en medisyne sal fokus.

Edith en Blessing se reis het verlede jaar begin toe die Akademie vir Wetenskap van Suid-Afrika (ASSAf) die nominasieproses begin het vir Suid-Afrikaanse studente wat in fisiologie en medisyne studeer om die Lindau-byeenkoms by te woon.

Volgens ASSAf is suksesvolle wetenskaplikes uitmuntende nagraadse en postdoktorale studente onder die ouderdom van 35 jaar. Hulle is deur ’n multistadium- internasionale keuringsproses gekies en verteenwoordig meer as 200 wetenskaplike instellings, universiteite, stigtings en navorsingsgeoriënteerde maatskappye uit navorsingslande.

Edith en Blessing sal tydens hulle verblyf in Lindau hulle navorsingsprojek aan jong medewetenskaplikes en die Nobelpryswenners voorlê.

Edith is ’n geregistreerde tweedejaar-PhD-student in die Skool vir Fisiologie, Voeding en Verbruikerswetenskappe en haar navorsing fokus op die evaluering van demografiese, kardiovaskulêre en metaboliese gesondheidsoorgang van ’n Suid-Afrikaanse groep wat oor die verloop van 10 jaar met MIV leef.

Blessing is ’n derdejaar-PhD-student en haar navorsing ondersoek leptien vanuit endoteel-aktivering na subkliniese teikenorgaanskade by jong wit en swart volwassenes – die Afrika-PREDICT-studie.

“Ons is ook baie goeie vriende en kan nie wag vir hierdie geleentheid om soveel jongmense van só baie ander lande in die wêreld te ontmoet en navorsingsidees uit te ruil nie,” sê Blessing.

Prof Refilwe Phaswana-Mafuya, Adjunk-Visekanselier vir Navorsing en Innovering aan die NWU, het hierdie twee jong vroue gelukgewens omdat hulle die NWU uitsonderlik maak.

Edith en Blessing is deel van meer as 50 persent vroulike verteenwoordigers wat hierdie jaar se gebeurtenis van 24 tot 29 Junie gaan bywoon.

Blessing Ahiante en Edith Phalane is baie opgewonde om die 68ste Lindau Nobelpryswennersbyeenkoms in Duitsland by te woon.