NWU wil nou bekostigbare kunsledemate vervaardig

Johan Van Zyl -- Thu, 02/23/2017 - 08:22

NWU wil nou bekostigbare kunsledemate vervaardig

Om ‘n ledemaat te verloor is sekerlik ‘n traumatiese ervaring. Dit gaan gewoonlik gepaard met astronomiese mediese rekenings, en die laaste ding waaroor mens dan jouself moet bekommer, is genoegsame fondse om later ‘n prostetiese ledemaat te kan bekostig. Ongelukkig is dié bekommernis vir meeste mense wat 'n ledemaat verloor het, 'n harde realiteit.

Die Noordwes-Universiteit (NWU) se Fakulteit Ingenieurswese is besig met baanbrekerswerk en poog nou om prostetiese ledemate te vervaardig sodat dit teen ‘n fraksie van die tradisionele prys in die mark aangebied kan word. Veral aan diegene wat as gevolg van ‘n gebrek aan fondse, ‘n nuwe arm of been bloot ‘n droom sal bly.

CP Kloppers, ‘n dosent aan die Skool vir Meganiese Ingenieurswese en projekbestuurder sê dié idee is by ‘n kollega, Danie Vorster, gebore. “Ek wéét ons het die nodige kundigheid, en al het ons nog nie ervaring daarin nie, is dit die moeite werd om te probeer,” sê Danie.

CP het met Theunis Nel, bekende TV-aanbieder van die motorfietsprogram Woema, wat in 2014 in ‘n baie ernstige motorfietsongeluk betrokke was, in verbinding getree. Theunis se beserings was van só aard dat sy regterarm onder andere geamputeer moes word. “Ek en Theunis het om ‘n tafel gesit en oor ons inisiatief om prostetiese ledemate te vervaardig gesels. Theunis het dit baie goed ontvang en ek het daar en dan aangebied om vir hom ‘n prostetiese arm as ‘n proefprojek te bou.”

NWU gebruik nuwe tegnologie

Die NWU beskik oor ‘n ultramoderne en gesofistikeerde 3D-drukker wat ‘n pryskaartjie van byna R2,5 miljoen het. Nou wil CP en ‘n meestersgraadstudent, Jako van Rooyen, ‘n volwaardige prostetiese arm ontwerp en met behulp van die 3D-drukker, ‘n nuwe arm van plastiek vervaardig.

“Ons kon ‘n vriend van Theunis se prostetiese arm leen. Hy het dit ‘n paar maande gelede uit Kanada ingevoer, en het hom byna R60 000 uit die sak gejaag. Ons kon die arm vir drie maande in ons werkswinkel bestudeer. Ons het ‘n omgekeerde ingenieursproses gevolg wat geleentheid gebied het vir die uitmekaar haal van al die parte, die opmeet, teken en herontwerp daarvan. Ons is egter reeds in die vervaardigingsproses van die arm, en sover lyk dit asof dit ‘n wegholsukses gaan wees,” sê CP.

Hy sê verder dat daar baie streng wetgewing in plek is wanneer dit by die ontwerp en vervaardiging van prostese kom en dat die finale produk eers deur spesialiste soos ‘n ortotis en protosis ondersoek en goedgekeur moet word voordat dit in gebruik geneem mag word. “Ons het reeds met dié spesialiste kontak gemaak, wat ‘n valkoog oor ons ontwerp- en vervaardigingsproses hou."

Hulle beplanning behels dat die prostese teen einde Junie gereed en goedgekeur moet wees. "Ons het reeds vroeër ‘n toetsmodel van plastiek en aluminium ontwerp en vervaardig, en was in die wolke toe die gebruik perfek gewerk het en dit goed aan die proefpersoon gepas het."

Fakulteit help met verstellings

Theunis het onlangs die NWU se Potchefstroomkampus besoek om na die vordering van die prostetiese arm te kom loer. Hy was uit die veld geslaan toe CP hom meedeel dat hulle nie net vir hom ‘n nuwe arm bou nie, maar dat hulle ook met ‘n projek besig is om ‘n motorfiets só om te bou en aan te pas dat hy binnekort weer dié ysterperd kan opsaal. Dié projek behoort ook teen einde Junie voltooi te wees. Die fakulteit sal ook tegniese hulp verleen om nog ‘n motorfiets om te bou. Theunis sê dié twee motorfietse sal hy en sy vriend gebruik om later reg oor Suid-Afrika te toer en sendingwerk te doen.

Die Skool vir Meganiese Ingenieurswese het aansoek vir befondsing van ‘n nasionale publieke entiteit gedoen wat tegnologiese innovasie stimuleer en ondersteun. Dié entiteit se rol behels onder andere om die gaping tussen navorsing en ontwikkeling te oorbrug. CP sê hul wag nog om te hoor of hul aansoek suksesvol was.

“Indien ons verdere befondsing kry, maak dit die deur net soveel wyer oop om veral prostetiese ledemate te kan vervaardig en aan diegene kan verskaf wat nie die duur, en meestal ingevoerde prostese kan bekostig nie. Ek weet daar moet nog baie water in die see loop, maar hierdie inisiatief sal nie net my droom bewaarheid nie, maar ek is seker honderde ander mense s’n ook,” sê CP.

CP Kloppers, ‘n dosent aan die Skool vir Meganiese Ingenieurswese saam met Theunis Nel en meestersgraadstudent, Jako van Rooyen. Hulle vervaardig ‘n toetsmodel prostetiese arm vir Theunis en sal ook dié motorfiets só aanpas dat hy dit kan bestuur. 

 

'n 3D-drukker is besig om een van die komponente van die prostetiese arm uit plastiek te druk.

 

Jako van Rooyen, 'n meestergraadstudent in meganiese ingenieurswese, is besig met die verfyning van die ontwerp van 'n prostetiese arm.