NWU weer op die Varsity-wenpad

Belinda Bantham -- Fri, 09/06/2019 - 09:39

NWU weer op die Varsity-wenpad

Die Varsity netbalspan van die Noordwes-Universiteit (NWU) is weer op die wenpad nadat hulle die Universiteit van die Wes-Kaap by die Coetzenburg-binnenshuisesentrum in Stellenbosch oorrompel het. Die NWU het die UWK met 60-38 verslaan.

Dit was ’n welkome terugkeer van Elsunet du Plessis se span ná ’n teleurstellende nederlaag van 54-38 teen Stellenbosch Universiteit op laasgenoemde se tuisbaan. Hoewel dit ’n teleurstellende begin vir hulle Varsity Netbal-veldtog was, het die NWU-span al keer op keer getoon dat hulle een van die kragte is om mee rekening te hou in hierdie luisterryke toernooi.

Die NWU was rustyd 34-16 voor, en hul vyf doele in die eerste kragspel was baie waardevol. Nadat hulle die bonuspunt vir ’n telling van 50 punte of meer in hul sak gehad het, was die wedstryd gewonne, met die res van die kragmeting net ’n formaliteit.

Die NWU se Londeka Buthelezi het geskitter en is as die FNB-speler van die wedstryd aangewys.

Die NWU se volgende kragmeting is op 8 September teen die Universiteit van Johannesburg in die Callie Human-saal in Bloemfontein. Daarna sal hulle die Universiteit van die Vrystaat die volgende aand in dieselfde lokaal aanpak.

’n Week later sal die NWU die Tswane Universiteit van Tegnologie die stryd aansê, gevolg deur die Universiteit van Pretoria. Daarna sluit hulle die groepstadium van die kompetisie af teen Nelson Mandela Universiteit in Port Elizabeth.