NWU vier sy multikulturele en diverse studentegemeenskap

Belinda Bantham -- Fri, 06/15/2018 - 08:29

NWU vier sy multikulturele en diverse studentegemeenskap

Meer as 200 studente van die Noordwes-Universiteit (NWU), wat ongeveer 30 lande van regoor die wêreld verteenwoordig, het onlangs die Internasionale Verwelkomings- en Multikulturele Dag bygewoon wat deur die NWU se Kantoor vir Wêreldbetrokkenheid aangebied is.

Die doel van hierdie geleentheid was om waardering vir die universiteit se multikulturele en diverse studentegemeenskap te toon.

Prof Refilwe Phaswana-Mafuya, die adjunk-visekanselier vir navorsing en innovasie, het die NWU se internasionale studente vir ’n dag vol pret, kos en feesviering na die Potchefstroomse Botaniese Tuin genooi. Sy het ’n hartlike welkomswoord gerig en ’n interessante oorsig oor internasionalisering by die universiteit gegee.

John Shamba, ’n internasionale voorgraadse student van Zimbabwe, en dr Ambrose Okem, ’n internasionale postdoktorale genoot van Nigerië, het oor hulle ervarings by die NWU gepraat.

Prof Robert Balfour, die adjunk-visekanselier vir onderrig en leer, Pieter-Hendrik White, die internasionale beampte op die verteenwoordigende studenteraad, en ander studente-kampusraadslede het wonderlike ondersteuning op die dag verskaf. Die geleentheid is ook deur ’n aantal diplomate van verskeie lande bygewoon.

Studente het ’n ongelooflike voedselsafari van regoor die wêreld ervaar, met tradisionele kos uit talle verskillende lande. ’n Aantal studente het as ’n eerbewys aan hulle herkoms die geleentheid in hulle tradisionele drag bygewoon.

Die Internasionale Verwelkomings- en Multikulturele Dag sal van nou af ’n jaarlikse gebeurtenis wees.