NWU vier ’n jaar van navorsingsuitnemendheid

Marelize Santana -- Mon, 11/26/2018 - 11:51

NWU vier ’n jaar van navorsingsuitnemendheid

2018 sal onthou word as die jaar van talle navorsings- en innovasiehoogtepunte vir die Noordwes-Universiteit (NWU).

Die NWU het sy navorsing na die publiek toe geneem en gesprek aangemoedig deur 12 openbare lesings te hou wat deur gerespekteerde akademici, spesialiste en belangrike rolspelers in die plaaslike en internasionale navorsing- en innovasie-arenas aangebied is.

Die openbare lesings het oor onderwerpe soos die transformasie van hoër onderwys, uitnemendheid of elitisme in die Suid-Afrikaanse akademie, die bevordering van innovasie en entrepreneurskap, nuwe uitdagings vir vakkundige boeke, ondersteuning vir Suid-Afrikaanse navorsers in ’n omgewing met min hulpbronne, die bespoediging van die voltooiingskoers en internasionale publikasies van nagraadse studente, verantwoordelike navorsingsbestuur en die rolle van Suid-Afrika en Rusland by BRICS. Studente, akademici en kundiges het die geleentheid gehad om betrokke te raak en hulle menings te deel.

’n Twee weke lange besoek van die NWU-afvaardiging aan China in Junie was ’n ander hoogtepunt wat tot verskeie opvolgbesoeke deur die NWU aan China gelei het om verdere samewerkingsgeleenthede te ondersoek.

Die NWU is geweldig trots op die drie nuwe navorsingsleerstoele wat toegeken is, wat maak dat daar ’n totaal van 11 navorsingsleerstoele is wat deur die universiteit gehuisves word. Die nuwe leerstoele is prof Stefan Wagner se Suid-Afrika–Namibië bilaterale SARChI-leerstoel in astronomie en astrofisika, prof Anél du Plessis se SARChI-leerstoel in volhoubaarheid van stede, die reg en die omgewing (Cities, Law and Environmental Sustainability), en prof Jako Olivier se UNESCO-leerstoel oor multimodale leer en ooponderwyshulpbronne.  

Die NWU se prestasie van ’n telling van vyf in innovasie volgens die QS-graderingstelsel is ’n verdere bewys van die leidende rol wat dit nasionaal en internasionaal in hierdie verband speel.

 “Ons is besonder trots op al ons navorsers en innoveerders wat deur toekennings, spesiale aanstellings en eweknie-erkenning vir hulle waardevolle bydraes op hulle kundigheidsgebiede erkenning ontvang het. Die NWU is ’n gerespekteerde universiteit met ’n noemenswaardige nasionale en internasionale profiel en impak. Dit beklee steeds ’n posisie onder die top-10 Suid-Afrikaanse universiteite en wêreldwyd onder die top-1 000. Dit alles is as gevolg van die harde werk en toewyding van ons navorsers en innoveerders,” sê prof Refilwe Phaswana-Mafuya, adjunk-visekanselier vir navorsing en innovasie.

Soos ons van 2018 afskeid neem, lê die beste nog voor met die NWU se eerste tweejaarlikse navorsing en innovasie-konferensie wat ’n opwindende jaar gaan afsluit. Hierdie konferensie vir navorsers, deur navorsers en met navorsers beloof om ’n onvergeetlike gebeurtenis te wees.

Prof Refilwe Phaswana-Mafuya