NWU vereer dr Imtiaz Ismail Sooliman vir buitengewone werk

Marelize Santana -- Fri, 05/17/2019 - 14:27

NWU vereer dr Imtiaz Ismail Sooliman vir buitengewone werk

’n Individu met uitsonderlike leierseienskappe wat buitengewone bydraes tot oorgrens- en internasionale samewerking gemaak het, het onlangs aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se hoë standaard vir ’n eredoktorsgraad voldoen. Dr Imtiaz Ismail Sooliman se werk spreek vanself en is op 22 Mei 2019 vereer.

Dr Imtiaz Ismail Sooliman is op 7 Maart 1962 in Potchefstroom in die Noordwes provinsie gebore. Hy het in 1978 aan Sastri College in Durban gematrikuleer en daarna in 1984 aan die Universiteit van Natal se Mediese Skool as ’n mediese praktisyn gekwalifiseer.

Hy het in Pietermaritzburg in ’n privaat praktyk begin werk. In 1994 het hy voltyds betrokke geraak by Gift of the Givers – ’n stigting wat hy op 6 Augustus 1992 begin het en in een van die wêreld se mees gerespekteerde humanitêre organisasies ontwikkel het. Die Afrika-kontinent kan met trots Gift of the Givers beskryf as die grootste rampreaksie-agentskap op die kontinent wat in Afrika ontstaan het.

Hierdie buitengewone man sal die eredoktorsgraad van die NWU ontvang ter erkenning van sy uitstaande bydraes. Dr Sooliman het voldoen aan die hoë standaarde wat die NWU vir die toekenning van so ’n graad stel, en word ook vir sy buitengewone meriete ten opsigte van algemene leierskap, organisasieleierskap en mensvaardighede vereer. Sy uitsonderlike bydraes het betrekking op maatskaplike geregtigheid nie net in Suid-Afrika nie, maar regoor die wêreld.

Dr Sooliman se naam word hoog aangeslaan in rampverligting, basiese dienste en die verskaffing van mediese dienste. Hy het ook bekend geword vir die rol wat hy speel om sake- en leierskapskundigheid met entoesiasme vir filantropie te kombineer.

Dr Sooliman het 21 verskillende kategorieë van projekte deur Gift of the Givers geïnisieer, wat R2,1 miljard se hulp aan mense in 43 lande, insluitende Suid-Afrika, gelewer het.

Hy het sy loopbaan verryk deur in 1993 die wêreld se eerste en enigste houer- mobiele hospitaal te ontwerp en ontwikkel. Dit is in Bosnië ontplooi en deur CNN as een van die beste hospitale in Europa bestempel.

Gift of the Givers was die eerste stigting om R60 miljoen van ’n regering te ontvang om 204 000 kospakkies saam te stel en te versprei. Dr Sooliman se innoverende hoë-energie- en proteïenaanvulling van grondboontjie en soja – die eerste wêreldwyd – het ’n belangrike rol in die behandeling van MIV/Vigs, TB, wanvoeding, kanker en verskillende ander uitmergelende siektes gespeel. Afrika se grootste oopbron-rekenaarlaboratorium is ook in 2007 deur hom ontwikkel.

Dr Sooliman se buitengewone werk is omvattend in talle media beskryf, plaaslik sowel as internasionaal, insluitend in profiele deur CNN se “African Voices” (2011), eNCA se “Movers and Shakers” (2013) en SABC3 se “21 Icons”.

Sy lys van toekennings sluit 121 individuele en organisasietoekennings, erkenning deur en melding in die Parlement in. Die toekennings sluit vier presidensiële toekennings in.

Dit is die President se Orde van die Ster van Suid-Afrika van president FW de Klerk (1993) – die hoogste burgerlike toekenning in die land; die Pietermaritzburg Stadsraad Burgerlike Huldigingstoekenning van president Nelson Mandela vir uitstaande gemeenskapsdiens (1997); die toekenning as Grootkanselier van die Orde van die Baobab: Silwer van President Jacob Zuma vir sy uitstekende bydrae deur Gift of the Givers tot nasionale en internasionale humanitêre hulp (2010); en die presidensiële toekenning Tamgha-i-Eisaar van die president van Pakistan, Pervez Musharraf, vir hulp wat ná die Pakistanse aardbewing verleen is.

Dr Sooliman het sewe eredoktorsgrade van verskeie universiteite en 11 ander toekennings ontvang. Die stigting is deur die parlement uitgesonder vir sy reaksie op rampe in die algemeen en op die aardbewing in Haïti in die besonder. Hulle het ’n mosie van gelukwensing van die parlement van Suid-Afrika vir die hulpverlening in Somalië ontvang.

Lof van die regering sluit in die SA Vloot se Toekenning vir Uitstaande Humanitêre Diens; die Konvokasietoekenning van die Universiteit van KwaZulu-Natal; die eThekwini Munisipaliteit se Lewende Legendes-toekenning, die Toekenning vir Maatskaplike Verantwoordelikheid van die SAPD Mountain Rise vir die positiewe bydrae tot die verenigde stryd teen misdaad, en verskeie ander erkennings.

Ter erkenning van sy bydrae deur Gift of the Givers het die Poskantoor in Februarie 2014 die Beperkte Uitgawe Gift of the Givers-seël uitgereik, en in dieselfde jaar is ’n boek, “A Mercy to All”, oor dr Sooliman en Gift of the Givers uitgegee.

Hierdie ongelooflike man se internasionale toekennings sluit in die toekenning vir uitstaande diens aan Mostar (Bosnië), die Pakistan-Suid-Afrika Vriendskapstoekenning; die Pakistanse Militêre Toekenning vir hulpverlening tydens die Pakistanse aardbewing; die Stad Goedjarat en Pakistan se Moslemliga vir Pakistan Aardbewingtoekenning; die Internasionale Prokureursforum Toekenning; die MIV/Vigs Diensleweringstoekenning; die Diversiteitsleiertoekenning Malawi.

Ander internasionale toekennings sluit in die Klub Maritimo 100-jaar-medalje vir werk tydens die vloed in Portugal; die Sjeik Yusuf al Qardawi-toekenning vir diens aan Palestina, en die gesogte Global Citizen-toekenning deur die internasionale burgerskapsadviesfirma Henley & Partners. Ander toekennings het op die velde van godsdiens, kultuur, besigheid, gesondheid, sport en publikasies betrekking.

Nie net is dit ’n eer vir die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe van die NWU om dr Sooliman te kon nomineer vir ʼn eredoktorsgraad vir sy bydraes tot die burgerlike samelewing nie, maar die universiteit is trots om homself met dr Sooliman as een van die grootste humanitêre persoonlikhede van die 21ste eeu te vereenselwig.

Dr Imtiaz Ismail Sooliman