NWU vereer die room van sy oes

Belinda Bantham -- Mon, 10/09/2017 - 10:50

NWU vereer die room van sy oes

Die Noordwes-Universiteit (NWU) het op 6 Oktober in Sandton sy top-alumni by ’n toekenningseremonie vereer. Hierdie jaar se toekenningseremonie het die gesogte NWU Leeftydprestasietoekenning ingesluit en ook erkenning gegee aan die NWU-alumni wat in 2017 in die internasionale arena presteer het.


Die gesogte Leeftydprestasietoekenning het gegaan aan die voormalige rektor van die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO), prof Tjaart van der Walt. Prof Van der Walt het van 1977 tot 1987 in hierdie hoedanigheid gedien. Hy het in 1951 ’n BA-graad aan daardie universiteit verwerf. Dit is die derde keer dat hierdie gesogte toekenning ter erkenning van buitengewone prestasies toegeken word. Vorige ontvangers sluit die voormalige president, mnr FW de Klerk, en die voormalige visekanselier van die NWU, dr Theuns Eloff, in.

Ander bekende alumni wat vereer is, sluit ’n kulturele leier, ’n suksesvolle entrepreneur, ʼn bekende teoloog, ʼn baanbreker in opvoedkunde, ’n dinamiese regsman, ’n geëerde navorser, ʼn buitengewone joernalis en ’n afrigtingskundige in.

 Alumni-wenners

  • Prof Tjaart van der Walt, voormalige rektor van die PU vir CHO en buitengewone leier, Leeftydprestasietoekenning
  • Dr Frits Kok, kulturele brugbouer en invloedryke lid van die Afrikaanse Taal en Kultuurvereniging (ATKV), Kuns en Kultuur-toekenning
  • Mnr Tamsanqa Manzi, suksesvolle entrepreneur en werkskepper, Gemeenskapsbetrokkenheid-toekenning
  • Prof Koos van Rooy, teoloog, sendeling en Bybelvertaler, Gemeenskapsbertrokkenheid-toekenning
  • Prof Kobus Pienaar, skrywer en hoogs aangeskrewe kundige in opvoedkunde, Opvoedkunde-toekenning
  • Dr Sejako Senatle, gemeenskapsprokureur en dinamiese regspersoon, Openbare Diens-toekenning
  • Prof Rudi van Eldik, geëerde navorser en wetenskaplike, Navorsingstoekenning
  • Dr Elsje Jordaan, ’n welbekende sportafrigtingspesialis en pionier in die gebruik van digitale platforms om wedstrydtendense te ontleed, Sport-toekenning
  • Me Daniëlla van Heerden, bekroonde joernalis, Jong Alumnus-toekenning

Me Suid-Afrika, Demi-Leigh Nel-Peters, is die ontvanger van hierdie jaar se NWU Ambassadeur-toekenning vir die verteenwoordiging van die universiteit en Suid-Afrika in die internasionale arena.

Prof Dan Kgwadi, visekanselier van die NWU, sê dat die instelling geherposisioneer is as unitêre universiteit met ’n fokus op akademiese uitnemendheid en maatskaplike geregtigheid.

“Ons is steeds een van Suid-Afrika se top universiteite en het ’n betekenisvolle rol om te speel om ons land te ontwikkel.”

Verdien die lojaliteit van alumni

Prof Kgwadi sê dat die universiteit ten goede verander. “Van binne behou ons die beste van al ons geskiedkundige komponente waaruit die NWU opgebou is. Of julle aan die ou Universiteit van Bophuthatswana of die Universiteit van Noordwes of die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys of sedert 2004 aan die Noordwes-Universiteit gestudeer het, julle is almal ons alumni en die NWU is julle alma mater.”

Hy het beklemtoon dat die NWU nooit die lojaliteit van sy alumni as ’n gegewe sal aanvaar nie, en dus sal voortgaan om dit te verdien.

“Terwyl ons werk om sukses in ’n veranderende omgewing te behaal, kyk ons na ons alumni om ons rolmodelle op baie gebiede te wees. Julle sukses inspireer en versterk ons. Mag ons almal daarna streef om rolmodelle te wees, aangesien ons toekomstige sukses nie op strategiedokumente gebou sal word nie, maar op die inspirerende leierskap en voorbeeld van individue.”

Alumni van die NWU trap reeds jare lank diep spore – nie slegs in Suid-Afrika nie, maar ook internasionaal. 2017 is die vyfde jaar van die gesogte NWU-alumnitoekennings.

2017 is ’n mylpaaljaar vir die NWU, en met sy nuwe strategie stewig in plek, reik die universiteit na nuwe hoogtes in die onderwyssektor. Hierdie jaar se wenners van Alumnitoekennings is die bewys dat die NWU gegradueerdes van buitengewone hoë kaliber oplewer. Ons sal voortgaan om dit te doen terwyl ons ons regmaak om ’n nuwe en opwindende hoofstuk te betree, en aanhou om betekenisvolle bydraes tot Suid-Afrika en die wêreld te maak.

 Vanjaar se ontvangers van die NWU se gesogte Alumni-toekennings is Me Minette Dempsey (namens Dr Elsje Jordaan), Mnr Tamsanqa Manzi, Prof Kobus Pienaar, Prof Koos van Rooy, Dr Sejako Senatle, Mej Suid-Afrika Demi-Leigh Nel-Peters (NWU Ambassadeur-toekenning), Prof Peter van Eldik (namens Prof Rudi van Eldik), Me Daniëlla van Heerden, Me Hannie van der Merwe (names Prof TJaart van der Walt) en Dr Frits Kok.

 

Navrae:                  Willie du Plessis: 082 590 0692

                                   Korporatiewe Kommunikasie , NWU

Datum:                            9 Oktober 2017