NWU is Varsity hokkiekampioen!

Belinda Bantham -- Thu, 05/23/2019 - 09:56

NWU is Varsity hokkiekampioen!

Drama, drama en nogmaals drama. Toe, vreugde. Die Noordwes-Universiteit (NWU) se vrouehokkiespan het Maandagaand, 20 Mei 2019, in Stellenbosch Maties 2-1 op senutergende wyse – danksy ʼn strafdoeluitskiet – geklop om as Varsity hokkiekampioen gekroon te word.

Hierdie indrukwekkende sege in Stellenbosch sal nog vir baie jare onthou word. Met nie een van die spanne wat in speeltyd ʼn doel kon aanteken nie, het dit uiteindelik op ʼn strafdoeluitskiet neergekom om die wenner te bepaal.

Hoewel vingernaels regoor die NWU afgekou was, was dit mos hoe ʼn eindstryd moes eindig. Veral as jy Kirsty Adams en Clarise Smit in jou span het.

Albei dié skerpskutters was in die kol met hul pogings, en die groot rede waarom kaptein Charné Maddocks en haar krygers breed kon glimlag.

Kirsty is ook as die Speler van die Wedstryd aangewys.

Daar kan gestry word dat die NWU vroeg in die kragmeting en veral voor speeltyd verstreke was, die agterkant van die doelhoek kon gevind het, maar as die telling só lyk, gaan niemand kla nie.

 

Die NWU is die Varsity hokkiekampioen vir 2019.