NWU-sterrekundiges speel ’n rol in aanbied van eerste Algemene Vergadering van IAU in Afrika

Belinda Bantham -- Wed, 09/12/2018 - 09:32

NWU-sterrekundiges speel ’n rol in aanbied van eerste Algemene Vergadering van IAU in Afrika

Die 32ste Algemene Vergadering van die Internasionale Astronomie-Unie (IAU) gaan in 2024 vir die eerste keer in Afrika gehou word, en dit met behulp van twee sterrekundiges van die Noordwes-Universiteit (NWU).

Prof Christo Venter en prof Markus Boettcher van die Sentrum vir Ruimtenavorsing was albei betrokke by die proses om die bod saam te stel om die 2024-vergadering IAU in Kaapstad te hou.

Dit sal die eerste keer in die 105-jarige bestaan van die IAU wees dat die Algemene Vergadering in Afrika gehou sal word.

Prof Boettcher sê dit is die grootste byeenkoms van sterrekundiges ter wêreld, en hulle verwag tussen 2 000 en 3 000 deelnemers van regoor die wêreld.

Die formele uitnodiging na Kaapstad is op die 30ste Algemene Vergadering van die IAU in Wene, Oostenryk gerig. Die uitnodiging is deur die Suid-Afrikaanse astronomiegemeenskap in samewerking met die Akademie vir Wetenskap van Suid-Afrika (ASSAf) gerig, en met sterk ondersteuning van die Suid-Afrikaanse regering en belanghebbers in astronomie van regoor die Afrika-kontinent.

Afrika het ’n lang en ryk verhouding met sterrekunde wat duisende jare terug strek. Die wêreld het amper twee eeue gelede die unieke belangrikheid van Afrika in wêreldwye sterrekunde erken toe die Koninklike Sterrewag, Kaap die Goeie Hoop in 1820 gestig is. Sedertdien het Afrika se bydraes tot wêreldwye menslike kennis van krag tot krag gegaan.

Volgens ’n persvrystelling deur die IAU is die Algemene Vergadering in Kaapstad in 2024 ’n geleentheid om aan Afrika ’n stem te gee in die wêreldwye sterrekundige onderneming en sal dit die aandag vestig op die uitstekende wetenskap en onderrig wat op die kontinent plaasvind.

Prof Christo Venter.

Prof Markus Boettcher.