NWU stel uitnemende sakeleier as sy derde kanselier aan

Marelize Santana -- Thu, 07/04/2019 - 10:57

NWU stel uitnemende sakeleier as sy derde kanselier aan

Die Noordwes-Universiteit (NWU) se Raad het by sy vergadering van 20 Junie dr Anna Mokgokong, uitnemende sakeleier en entrepreneur, as sy derde kanselier aangestel.

As kanselier sal sy as titulêre hoof van die NWU dien. Alle kwalifikasies wat deur die universiteit toegeken word, word formeel deur die kanselier toegeken.

Sy volg in die voetspore van Kgosi Leruo Molotlegi, koning van die Koninklike Bafokeng-nasie, en dr Popo Molefe, voormalige premier van Noordwes en nou voorsitter van Transnet. Die uittredende kanselier, Kgosi Leruo Molotlegi, het twee opeenvolgende termyne as die NWU se kanselier gedien. Sy eerste termyn het in 2009 begin en die tweede in 2014. Regdeur sy tyd as kanselier het Kgosi Molotlegi die belangrikheid beklemtoon om ’n wedersydse proses van leer tussen die universiteit en die gemeenskap te verseker.

Dr Mokgokong, wat aan die stuur is van Community Investment Holdings (Pty) Ltd, waarvan sy ook die stigtersvoorsitter is, is ’n ware maatskaplike aktivis wat ’n geweldige bydrae gemaak het tot die transformasie van maatskappye op wie se direksies sy dien. Sy is ’n senior direkteur van vyf genoteerde maatskappye op die Johannesburgse aandelebeurs en voorsitter van drie van hulle.

Benewens haar uitvoerige sakekennis en lof vir haar entrepreneursvermoë, het sy as voorsitter van die Suid-Afrikaanse Vroue-entrepreneursnetwerk (SA WEN) en in die Internasionale Vroueforum van Suid-Afrika (IWFSA) gedien. Dr Mokgokong is in 1998 in die Women Entrepreneurs of the World, ’n onafhanklike, internasionale netwerk van die wêreld se kragdadigste en suksesvolste entrepreneurs, opgeneem.

Haar ander prestasies sluit in dat sy in 1999 die gesogte SA Sakevrou van die Jaar-toekenning gewen het. Die Departement van Handel en Nywerheid, in vennootskap met Proudly South African en Brand South Africa, het dr Mokgokong in 2015 tydens die Suid-Afrikaanse premier besigheidstoekenningseremonie met ʼn leeftydsprestasie-toekenning vereer.

Sy is ook ’n gewilde openbare spreker met ’n groot belangstelling in gemeenskapsontwikkeling en die bemagtiging van vroue.

Dr Mokgokong het ’n BSc-graad van die Universiteit van Botswana, en ’n MBChB van die Mediese Universiteit van Suid-Afrika, verwerf. Sy is die eerste vrou wat ’n eredoktorsgraad in handel van Unisa ontvang het.

“Ek sien uit daarna om die NWU na die beste van my vermoë te dien, en ek bedank almal wat verantwoordelik was vir die benoeming wat tot my aanstelling gelei het. Ek ontvang dit met groot nederigheid en vra God dat ek aan die verwagtinge sal voldoen; nie alleen van die universiteit nie, maar ook van sy sleutelbelanghebbers, die jeug,” sê dr Mokgokong.

Besonderhede oor haar inhuldiging, wat later vanjaar sal plaasvind, sal mettertyd aangekondig word.

Dr Bismark Tyobeka, die Raad se voorsitter, het dr Mokgokong met haar aanstelling gelukgewens, en sy vertroue uitgespreek in haar vermoë om die NWU te verteenwoordig en tot nog groter suksesse te voer.

“Dit is vir ons ʼn groot eer om dr Mokgokong in die NWU-familie te verwelkom. Ons sien daarna uit om te put uit haar kennis, ervaring, kundigheid en internasionale persoonlike netwerk as deel van ons strewe om ʼn internasionaal erkende universiteit in Afrika te wees wat bekend is vir sy wetenskapsbeoefening, maatskaplike responsiwiteit en sorgsaamheidsetiek.”

Hy het Kgosi Molotlegi vir sy waardevolle bydrae tot die NWU en sy aktiwiteite bedank.

Dr Anna Mokgokong, uitnemende sakeleier en entrepreneur, is die NWU se derde kanselier.

Uitgereik deur NWU Koporatiewe Verhoudinge en Bemarking

Navrae: Thumelo Muteme, Kommunikasiepraktisyn: 076 538 8502.