NWU stel dr Anna Mokgokong as sy derde kanselier in

Marelize Santana -- Thu, 11/21/2019 - 08:14

NWU stel dr Anna Mokgokong as sy derde kanselier in

Die Noordwes-Universiteit (NWU) het dr Anna Mokgokong, bekende sakeleier en entrepreneur, op 20 November tydens ’n glansryke geleentheid by die Feather Hill-venue in Potchefstroom ingestel. As kanselier sal sy as titulêre hoof van die NWU dien. Alle kwalifikasies wat deur die universiteit toegeken word, word formeel deur die kanselier toegeken.

Dr Mokgokong, wat aan die stuur is van Community Investment Holdings (Edms) Bpk, waarvan sy ook die stigtersvoorsitter is, is ’n ware maatskaplike aktivis wat ’n geweldige bydrae gemaak het tot die transformasie van maatskappye op wie se direksies sy dien. Sy is ’n senior direkteur van vyf maatskappye wat op die Johannesburgse aandelebeurs genoteer is en voorsitter van drie van hulle.

Benewens haar uitvoerige sakekennis en lof vir haar entrepreneursvermoë, het sy as voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse vroue-entrepreneursnetwerk (SA WEN) en in die internasionale vroueforum van Suid-Afrika (IWFSA) gedien. Dr Mokgokong is in 1998 in die Women Entrepreneurs of the World, ’n onafhanklike, internasionale netwerk van die wêreld se kragdadigste en suksesvolste entrepreneurs, opgeneem. Haar ander prestasies sluit in dat sy in 1999 die gesogte SA Sakevrou van die Jaar-toekenning gewen het. In 2015 het die Departement van Handel en Nywerheid, in vennootskap met Trots Suid-Afrikaans en Brand South Africa, dr Mokgokong met ’n leeftydprestasietoekenning by die Suid-Afrikaanse Premier-besigheidstoekenningseremonie vereer.

“Ek kan nie aan ’n toepasliker instelling dink waarmee ek geassosieer wil word nie, en een wie se geografiese voetspoor met die reis van my loopbaan ooreenstem. Die universiteit strek oor twee provinsies, en sluit halfplattelandse asook stedelike omgewings in, en dit verteenwoordig ook ’n mikrokosmos van ons uiteenlopende samelewing en kultuur.”

Dr Mokgokong sê dat die NWU daarom die werklike kern verteenwoordig van wie Suid-Afrikaners is, en as sodanig ’n leidende rol kan inneem om die probleme van die samelewing te hanteer terwyl die gees van ubuntu gehandhaaf word.

“Ek is baie opgewonde oor die volgende hoofstuk in die geskiedenis van die universiteit. Ek glo dat die diens aan die hoëronderwyssektor van ons land ’n geweldige, edele taak is, en dat dit ook ’n diens van hoop is. Ek het hierdie benoeming aanvaar, heeltemal bewus van die uitdagings wat nie net deur hierdie instelling in die gesig gestaar word nie, maar ook deur hoëronderwysinstellings, nasionaal en internasionaal, ervaar word.”

Sy sê sy voel dat om as kanselier te dien ’n roeping is. “My mantra is: ‘Steek jou hand op, word raakgesien en erken.’ Dit is vir my ’n roeping tot gemeenskapsdiens waaraan ek my lewe gewy het.”

“Dit is my uitdruklike wens dat die NWU as instelling as proaktief in die opstelling van ’n agenda vir maatskaplike probleme beskou sal word, eerder as om net in reaksie teen maatskaplike probleme op te tree.”  Sy glo dat maatskaplike geregtigheid daaroor gaan om toegang tot gehalte-onderwys te verskaf soos dit in die Grondwet verskans is.

Dr Bismark Tyobeka, voorsitter van die NWU-Raad, sê dat die instelling van dr Mokgokong as die heel eerste vroulike kanselier van die universiteit hulle verbintenis tot proaktiewe transformasie bevestig. “Dit vestig ons ook as ’n bastion van gelykheid.” Hy sê uit haar indrukwekkende resumé en bewese prestasierekord is dit duidelik dat wat sy bereik het van ’n onbuigsame toewyding aan uitnemendheid getuig. “Dit is in ooreenstemming met die inherente dryfkrag van ons instelling.”

Prof Dan Kgwadi, visekanselier, sê dat dr Mokgokong ’n vrou van eerstes is. “Sy is ’n voorloper; ’n bemagtiger van vooruitgang, en nou ’n gewaardeerde lid van die NWU-familie.”

Hy sê dat die universiteit geëerd is om haar te verwelkom. “Ons sal saam met dr Mokgokong selfs sterker word en ’n groter impak op die toekoms maak.”

Dr Mokgokong volg in die deurlugtige voetspore van Kgosi Leruo Molotlegi, koning van die Koninklike Bafokeng-nasie, en dr Popo Molefe, voormalige premier van Noordwes.

Kry Dr Anna Mokgokong se volle inligting hier.

Kyk na 'n video van die glansryke gebeurtenis.

Prof Dan Kgwadi, NWU visekanselier, dr Anna Mokgokong, die nuwe NWU kanselier, en dr Bismark Tyobeka, NWU Raadsvoorsitter.

Uitgereik deur NWU Korporatiewe Verhoudinge en Bemarking

Navrae:           Willie du Plessis, kommunikasiepraktisyn: 082 590 0692.
                        Hanna McDonald, Community Investment Holdings (Pty) Ltd: 083 805 3691