NWU spog met twee M&G Jong Suid-Afrikaners

Belinda Bantham -- Wed, 07/10/2019 - 11:12

NWU spog met twee M&G Jong Suid-Afrikaners  

Dr Aurelia Williams, ’n senior lektor by die Noordwes-Universiteit (NWU) se vakgroep Biochemie, en dr Musawenkosi Saurombe, ’n NWU-alumna, is op 28 Junie by ’n galageleentheid as twee van die Mail & Guardian se 200 Jong Suid-Afrikaners aangewys.

Die Mail & Guardian stel elke jaar sedert 2006 profiele saam van 200 jong Suid-Afrikaners van 35 jaar en jonger wat bó die ander uitstyg en op pad is om met hulle prestasie ’n invloed op die wêreld om hulle te hê. Hierdie jaarlikse gebeurtenis is net soveel ’n viering van uitnemendheid as wat dit ’n lys van toekomstige leiers is.

Onder hierdie merkwaardige jongmense wat sedert 2006 deel van hierdie groep uitgemaak het, is Julius Malema wat sy eie politieke party gestig het, en Trevor Noah wat in 2010 benoem is en nou die Daily Show in die stad New York aanbied.

Dr Williams is in die kategorie Wetenskap en Tegnologie vermeld, en dr Saurombe in die kategorie Opvoedkunde.

Die wonder van dr Williams

Dr Williams is in Nigel aan die Oos-Rand gebore en het haar voorgraadse jare en tot op meestersgraadvlak aan die Universiteit van Johannesburg deurgebring. Nadat sy haar PhD aan die Universiteit van Pretoria voltooi het, het sy by die Universiteit van Kalifornië in San Francisco aangesluit om haar postdoktorale studies daar aan te pak.

Sy beskryf dit as ’n ervaring wat haar gemotiveer het om alles was sy geleer het, terug te bring om Suid-Afrika te help groei.

Sy is vandag ’n senior lektor in biochemie aan die NWU. Sy is by die opleiding en mentorskap van nagraadse studente betrokke, en is ook die adjunksekretaris van Metabolomika Suid-Afrika.

Die kern van haar navorsingsbelangstelling is op die gebied van metabolomika, wat data en statistiek ondersoek om uit te vind hoe verskillende stimuli werk om die metabolisme van die gasheer te verander. Aangesien Suid-Afrika so ’n hoë voorkoms van MIV/vigs het, is haar navorsing deurslaggewend vir die wyse waarop die siekte in die toekoms bestuur gaan word.

Dr Williams is ook ongelooflik passievol oor die ontwikkeling van jong meisies sodat hulle gehelp kan word om hulle volle potensiaal te bereik. Haar betrokkenheid by die DreamGirls Academy, ’n susterskapsorganisasie van bemagtigde vroue wat tienermeisies en jong vroue wil bemagtig, stel haar in staat om presies dít en nog meer te doen.

Dr Williams sê dat sy geëerd voel deur hierdie erkenning. Dit is inderdaad ’n wonderlike platform en verskaf die nodige blootstelling om ander jong professionele persone te inspireer.  Ek is opgewonde oor die geleenthede waarheen dit gaan lei.”

 Dr Aurelia Williams.

Dr Saurombe streef na sukses

Sy is net 25 jaar oud, maar dr Saurombe het reeds die status van ’n senior akademikus aan die Universiteit van die Vrystaat bereik.

Sy het op die ouderdom van 16 jaar by die NWU ingeskryf, en teen die tyd dat sy 21 jaar oud was, het sy haar meestersgraad in bedryfsielkunde gehad. Sy het geen gras onder haar voete laat groei nie en het die volgende jaar haar PhD aangepak. Op die ouderdom van 23 jaar het sy die jongste vrou in Afrika geword om ’n PhD te verwerf.

Dr Saurombe se navorsing fokus op talentbestuur en die waardeproposisie van talent, en ondersoek die verhouding tussen die werknemer en die werkgewer. Haar werk kyk na die sielkundige kontrak wat dikwels tussen die twee partye bestaan – dit wat werkgewers vir hulle werknemers vir hulle kundigheid en bydrae tot die organisasie aanbied, en dit wat werknemers verwag om in ruil daarvoor te ontvang.

Sy sê dat sy baie bewus is van haar status as rolmodel vir talle jongmense van Afrika. “Dit beteken dat ek my lewe met groot eerbaarheid moet leef en na sukses moet streef.”

 Dr Musawenkosi Saurombe.