NWU skitter by die jaarlikse USSA-toernooie

Belinda Bantham -- Wed, 08/07/2019 - 08:39

NWU skitter by die jaarlikse USSA-toernooie

Die Universiteite Sport Suid-Afrika (USSA) -byeenkomste is afgehandel en dit is tyd om terug te kyk na hoe die Noordwes-Universiteit (NWU) en sy drie kampusse gevaar het.

Hierdie is maar net ’n paar van die uitstaande prestasies redes waarom hierdie instansie só spesiaal is.

Vanderbijlpark-woema

Verteenwoordigers van die kampus in Vanderbijlpark het hulself uiters goed van hul taak gekwyt met ʼn lys van goeie prestasies. Die vroue-hokkiespan het gewys wat hulle kan doen tydens die toernooi, aangebied deur die Universiteit Stellenbosch. Hulle was vierde in die B-afdeling.

Victoria Kompi en Lidith Moropane het onderskeidelik met ’n goue en ’n bronsmedalje weggestap tydens die karatetoernooi wat deur Rhodes Universiteit in Grahamstad aangebied is.

Die vroue-basketbalspan het almal beïndruk tydens die toernooi wat deur die Universiteit van Kaapstad aangebied is, en het tweede uit 16 deelnemende tersiêreonderwysinstellings geëindig. Cynthia Mudau is as die waardevolste speler van die toernooi aangewys.

Die liggaamsboutoernooi is op tuisgrond in Vanderbijlpark gehou, waar die span derde uit ’n totaal van 254 liggaamsbouers van 11 mededingende instellings geëindig het. Mathapelo Kekana is eerste geplaas in die fiksheid-bikini-afdeling, terwyl Thabo Mmonamudi tweede in die onder 60 kg-afdeling was.

Potchefstroom presteer

Die verskeie spanne van die kampus in Potchefstroom het ook uitmuntend presteer en die karatespan verdien ʼn pluimpie. Hulle het vir die 20ste agtereenvolgende keer as USSA-kampioene uit die stryd getree.

Die mans- en vrouekata-spanne sowel as die mans- en vroue kumite-spanne het almal goud gewen. In die individuele kata-afdeling het die NWU een goue, drie silwer- en een bronsmedalje gewen. In die individuele kumite-afdeling het die NWU vier goue medaljes, vyf silwer en twee brons gewen.

Die gimnastiekspan het vir die derde agtereenvolgende jaar as USSA-wenners met 25 goue medaljes, 21 silwer- en 11 bronsmedaljes uit die stryd getree.

In die pluimbaltoernooi het die NWU se A- en B-span hul onderskeie afdelings gewen. Daar was ook talle individuele prestasies met goud in die mans se enkelspelkompetisie, brons, silwer en goud in die vroue-enkelspelafdelings, goud in die mans se dubbelspel, goud in die vroue-dubbelspel en goud in die gemengde dubbels. Ruan Snyman was die wenner van die enkelspel, en medewenner in die dubbelspel en gemengde dubbelspel, wat hom ’n driedubbele kampioen maak.

Die winderige stad van Port Elizabeth het die gholftoernooi aangebied, waar die NWU se B-span ’n tweede plek in die B-afdeling gewen het.

Die eerste rugbyspan het twee van hulle drie wedstryde gewen, terwyl die mans- sowel as die vroue-fietsryspanne vierde klaargemaak het.

Die kampus se vrouehokkiespan het tweede in die A-afdeling geëindig nadat hulle in die finale rondte teen Tuks verloor het, en die mans het in die derde plek klaargemaak.

Die NWU se netbalspan is as kampioene gekroon nadat hulle Maties met 37-33 op hulle tuisbaan gewen het. Monique Reyneke is in die USSA-kompetisie se Droomspan ingesluit, en Simoné Rabie, Didintle Keebine en Jessica die Plessis in die USSA se KUKSA-groep.

Magiese Mahikeng

Nadat die rugbyspan op die kampus in Mahikeng twee van hulle drie wedstryde gewen het, is hulle bevorder na die B-afdeling in volgende jaar se kompetisie.

Die liggaamsbouspan het een goue, twee silwer- en een bronsmedalje gewen, met Katlego Mokgabudi wat vir die USSA se nasionale span gekies is. David Tshose is gekies om Suid-Afrika in Augustus in die IFBB Afrika-kampioenskap in Angola te verteenwoordig.

Die kampus se karatespan het met vier silwer- en agt bronsmedaljes teruggekeer, terwyl die dansspan in die derde plek geëindig het nadat hulle vyf goue, vier silwer- en ses bronsmedaljes gewen het. Pelonomi Tlhage en Refentse Senwedi is vir die USSA se nasionale span gekies.

#NWUVroue