NWU skitter by die 2017 Pendoring-toekennings

Belinda Bantham -- Wed, 11/22/2017 - 12:37

NWU skitter by die 2017 Pendoring-toekennings

Die Noordwes-Universiteit (NWU) se naam is hoog gehou by die onlangse Pendoring-toekennings in Johannesburg, met vier eerste plekke in hierdie jaarlikse kompetisie wat erkenning gee aan die beste pogings om reklame in al Suid-Afrika se inheemse tale te bevorder en stimuleer.

Drie van die NWU se finalejaarstudente in Grafiese Ontwerp van 2016 het gesogte silwertrofeë gewen.

Annemie Jansen van Vuuren se inskrywing, Shibit! Soet en Suur Grafies Ontwerper, het aan haar die toekenning in die kategorie vir studentekommunikasieontwerp – logo’s en identiteitsprogramme besorg.

“Die toekenning is vir my die viering van my kreatiwiteit en die talent wat God my gegee het. Ek beskou dit as een van die grootste toekennings wat ’n student kan kry as erkenning van baie lang ure se harde werk.” Annemie het ’n logo en identiteitsprogram vir haarself ontwerp. Sy het haarself as ’n Kewpie-pop geïllustreer en kontrasterende kleure in haar ontwerpe gebruik. Sy het haarself uitgebeeld as ’n “soet en suur” grafiese ontwerper met ’n lekkergoedwinkel en gelukspakkie as deel van die ontwerpelemente.

Suiwerbek Slingersous: Rêk Jou Bêk in Jou Eie Dialêk is die breinkind van Suné Potgieter en Grace Serfontein. Dié dinamiese duo het die silwertrofee in die kategorie vir geïntegreerde studenteveldtogte gewen.

Hulle projek het ’n geïntegreerde veldtog vir boetiekbier behels. “Dit sluit alles in van die bierbotteletikette tot die promosie-items,” sê Suné. “Ons het satire gebruik om te illustreer hoe mense vier verskillende dialekte van Afrikaans gebruik en te toon dat Afrikaans ’n sterk en veelsydige taal is.”

Suné en Grace sê dat hulle buitengewoon geëerd voel om die gesogte toekenning te kon wen. “Dit is wonderlik as jou passie – wat vir ons grafiese ontwerp is – op ’n nasionale vlak erken word,” sê Suné.

“Dit is ’n eer om my alma mater te bevorder, veral as gevolg van al die geleenthede wat dit vir my tydens my studie gegee het. Ek gee aan God al die eer vir hierdie toekenning,” sê Grace.

In die oorspronklike Afrikaanse kategorie het ’n silwertoekenning gegaan aan prof Hans du Plessis van die ATKV-skool vir Skryfkuns op die kampus in Potchefstroom en navorsingsgenoot van die navorsingseenheid vir taal en letterkunde. Die toekenning was vir sy teks, Vat die Stof my Bra, wat gebruik is in die BUCO Hardware Buildware-advertensie wat deur die Black Khaki-agentskap gemaak is.

Sy teks was ’n vertaling van die oorspronklike Engelse teks na Tsotsi-Afrikaans. Die advertensie het ook twee Vernufsertifikate gewen – een vir TV-, rolprent- en videokommunikasievernuf in die skryfkategorie, en die ander een vir radiokommunikasie, uitvoeringkategorie.

“Ek voel baie geëerd en hierdie toekenning beteken vir my baie omdat die wêreld van reklame iets is waarvan ek nie baie weet nie,” sê prof Du Plessis.

Die vier waardige ontvangers van silwertoekennings by die 2017 Pendoring Advertensietoekennings het weer eens die talent van die NWU se studente en personeel getoon.

Annemie Jansen van Vuuren

Suné Potgieter

Grace Serfontein

Prof Hans du Plessis