NWU se veldtog om nuwe beenmurgskenkers te werf lok 180 vrywilligers

Belinda Bantham -- Fri, 08/30/2019 - 10:12

NWU se veldtog om nuwe beenmurgskenkers te werf lok 180 vrywilligers

As jy ’n beenmurgskenker word, kan jy iemand se lewe red. Dit is ongelukkig baie moeilik om die regte skenker te kry vir iemand wat beenmurg nodig het. Die doelwit van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Skool vir Verpleegkunde is om hierdie uitdaging te help verlig – een tree op ’n keer.

Volgens dr Tinda Rabie, ’n senior lektor, bou die skool op sy sukses voort nadat hulle een van die NWU se studente, Pieter Goosen, gehelp het. Hy was op daardie tydstip met sy finale studiejaar besig. 

 “Nadat hy met leukemie gediagnoseer is, het ons ’n fondsinsameling gehou om hom met sy mediese uitgawes te help. Hy moes dringend ’n beenmurgoorplanting kry en die Suid-Afrikaanse Beenmurgregister (SABMR) kon nie plaaslik ’n geskikte skenker kry nie, en moes in die buiteland na ’n geskikte skenker soek. Wanneer beenmurg by die internasionale register gekry word, is dit baie duur en daarom is dit nodig dat die Suid-Afrikaanse register uitgebrei word,” sê sy.

Beenmurgoorplantings help om verskeie ander lewensbedreigende siektes, soos nie-Hodgkin-limfoom, beenmurgversaking, en genetiese bloed- en immuunstelselsiektes te behandel. Nuwe studies sluit ook meervoudige sklerose en talle ander in. Daar is gewoonlik net ’n kans van 1 uit 100 000 om ’n geskikte skenker te kry. Hoe meer potensiële skenkers dus by die SABMR geregistreer is, hoe groter is die kans om ’n pasiënt te red.

Dr Rabie sê dat nuwe tegnologie die hele proses vir die skenk van beenmurg baie minder ingrypend gemaak het.

 “Daar word eerstens met ’n depper ’n monster in die potensiële skenker se mond geneem, wat dan vir verdere toetsing na die SABMR se laboratoriums gestuur word. Indien die skenker geskik is vir iemand wat dringend ’n oorplanting nodig het, sal die SABMR die skenker nader om verdere reëlings te tref. Beenmurgselle word geïsoleer deur middel van ’n masjien wat die selle van mekaar skei. Hierdie selle kan potensieel iemand se lewe red.”

Daar is ’n geweldige behoefte aan beenmurgskenkers, en daarom het die NWU se Skool vir Verpleegkunde ’n inisiatief van stapel gestuur om ’n groter bewustheid onder potensiële skenkers te skep. Die skool het onlangs in samewerking met die SABMR ’n inligting- en werwingsveldtog geloods.

 “Die kandidate wat belanggestel het en geskik was, en wat ingewillig het om as potensiële beenmurgskenkers geregistreer te word, is gehelp om die nodige vorms in te vul en mondmonsters is geneem, wat dan individueel in SABMR-skenkerhouers verseël is. Ons verwagtings is oortref en meer as 180 potensiële skenkers het aan die inisiatief deelgeneem,” sê sy.

Sy sê dat die Skool vir Verpleegkunde die SABMR, die personeel, verpleegkundestudente en vrywilligers wil bedank dat hulle hierdie dag so ’n sukses gemaak het. Pieter Goosen, wat hierdie jaar ook die tweede herdenking vier nadat hy sy oorplanting gekry het, bedank ook almal vir hulle lojale ondersteuning en hulle pogings om ook aan ander ’n tweede kans op die lewe te gee.