NWU se SUNfarming-projek is die toekoms van landbou

Belinda Bantham -- Tue, 05/02/2017 - 10:06

NWU se SUNfarming-projek is die toekoms van landbou

Die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, mnr Senzeni Zokwana, het ’n boodskap van hoop en voorspoed gehad toe hy onlangs die Noordwes-Universiteit (NWU) se SUNfarming-projek op die kampus in Potchefstroom besoek het.

SUNfarming, een van die 10 groot fotovoltaïese (PV) projekontwikkelingsmaatskappye in Duitsland, het kragte saamgesnoer met die NWU se Fakulteit Ingenieurswese om ’n inisiatief van stapel te stuur wat ’n beduidende verbetering in die lewensgehalte van talle gemeenskappe, veral dié in landelike gebiede, tot gevolg sal hê.

Met die besef dat die behoefte aan onderwys, volhoubare werkskepping en voedselsekerheid in Afrika-lande besig is om toe te neem, het hulle ’n innoverende oplossing ontwerp om in die behoeftes van die gemeenskappe te voorsien deur ’n Voedsel- & Energie-sonkragopleidingsentrum by die NWU te vestig.

Die Voedsel- & Energie-oplossing bestaan uit spesiale landbou-sonkrag-kweekhuisstrukture. Die eerste drie van hulle soort is suksesvol getoets en teen ’n uitstekende uitset in Potchefstroom bedryf. Hierdie inisiatief is die gevolg van die vennootskap tussen SUNfarming en die NWU, waar deurlopende opleiding en navorsing oor nuwe oplossings vir die toekoms gedoen word. SUNfarming werk ook saam met die Universiteit van Nairobi; Cape Coast Universiteit, Ghana; Copperbelt Universiteit, Zambië; en BIUST Universiteit in Botswana om hierdie projek ook in Afrika te vestig.

Met hierdie vennootskap het hulle na die plaaslike Ikageng-gemeenskap in Potchefstroom uitgereik deur vaardighede aan sy lede oor te dra en om vir hulle ’n Voedsel & Energie-gerief te bou wat aan hulle energie, volhoubare werk en voedsel verskaf.

Die minister het die terrein besoek en sê dat inisiatiewe soos hierdie die departement sal help om die doelwit te bereik om een miljoen werksgeleenthede teen 2030 te skep. “Landbou is die antwoord op verskeie probleme. Ons het ’n paar keer per jaar ’n dokter of tandarts of prokureur nodig, maar ons het ’n boer ten minste drie keer per dag nodig. Ons moet daarna streef om vriendeliker metodes van landbouproduksie te skep. Wat die NWU en SUNfarming hier doen, is die antwoord op hierdie uitdagings wat ons binne die landbousektor ervaar. Wat ek vandag gesien het, is die toekoms van landbou. Ek wens julle geluk met ’n ongelooflike inisiatief en innovering. Dit is belangrik dat hierdie en ander projekte samewerkingsooreenkomste met die privaat sektor moet verkry om dit verder oor die provinsie en die land uit te brei,” sê mnr Zokwana.

Op sy beurt sê die waarnemende rektor van die NWU se kampus in Potchefstroom, prof Fika Janse van Rensburg, dat ons ongelooflike hulpbronne in Noordwes het en dat hulle benut moet word. “Met die kreatiewe innovering van die Fakulteit Ingenieurswese en SUNfarming, tesame met die steun van die Departement Landbou, is hierdie geleenthede eindeloos. Wat aanvanklik as ʼn klein projekkie begin het, het gou ’n baie groot en suksesvolle projek geword. Talle gemeenskappe sal by hierdie inisiatief baat sou dit op ’n groter skaal bedryf word,” het prof Janse van Rensburg bygevoeg.

Die Voedsel & Energie-projek, wat gedeeltelik deur die Duitse regering befonds word, fokus op die aanwending van tegnologiese ingenieurswese-oplossings en voer tradisionele, kleinskaalse groenteboerdery tot nuwe hoogtes.

Volgens prof LJ Grobler, dekaan van die Fakulteit Ingenieurswese, stel hierdie konsep hulle in staat om die gebruik van dieselfde beskikbare oppervlakte te vermenigvuldig. “Ons verdubbel die waarde van die oppervlakte omdat ons nie slegs landbouprodukte kweek nie, maar die sonpanele genereer terselfdertyd ook energie.”

Blomkool, blaarslaai, spinasie, kool, brokkoli en uie word in drie unieke kweekhuise gekweek. Die oorspronklike plante, misstof en kompos is deur die NWU en SUNfarming geskenk. Daarna sal die inkomste wat uit hierdie produkte verdien word hulle help om vir talle produksiesiklusse in die toekoms volhoubaar te wees.

’n Hele paar vroue van die Ikageng-gemeenskap is geïdentifiseer en word op ’n weeklikse basis oor bewerkingsmetodes, insekbeheer, voedingswaardes van verskillende gewasse, wortelstelsels en oestegnieke opgelei en onderrig. Een so ’n vrou is Motlalepula Magini. “Wanneer die groente gereed is om geoes te word, gaan ons dit aan plaaslike supermarkte verkoop. Ons kan hierdie inkomste gebruik om onsself te betaal, nuwe plante, misstof en kompos aan te koop en die proses van vooraf te begin. Dit is ’n volhoubare oplossing wat nie net vir ons werk skep nie, maar ook die geleentheid verskaf om ander met die heilsaamheid uit die aarde te bemagtig. Dit stel ons in staat om minder afhanklik van ander mense te wees,” sê Motlalepula.

Sy voeg by dat hulle ’n verantwoordelikheid het om die kennis wat hulle opdoen aan hulle kinders en naburige inwoners oor te dra. “Ek kan reeds die opgewondheid oor ons projek sien. Ons sal binnekort plante huis toe kan neem om ons eie groetetuine mee te begin. Die plan is om hierdie inisiatief verder uit te bou en binnekort so veel as vyftig vroue met kennis en vaardighede toe te rus.”

SUNfarming het sedert 2004 as projekontwikkelaar en operateur van fotovoltaïese aanlegte sukses begin behaal. SUNfarming het aanvanklik as beleggingskontroleur begin en beduidende ervaring in die ontwerp, oprigting, ontwikkeling en bedryf van groot-, medium- en kleinskaalse fotovoltaïese aanlegte opgedoen.

Met hulle ervare span van 100 werknemers (kommersiële personeel, ingenieurs en elektriese ingenieurs) het SUNfarming reeds projekte van 450-megawatt-kapasiteit regoor die wêreld aan die gang. Peter Schrum, stigter van SUNfarming, sê dat om te verseker dat hierdie beleggings waarde toon, SUNfarming vennote by universiteite, munisipaliteite en privaat belanghebbers nodig het om ’n 20 MW Voedsel & Energie-aanleg in elke groot stad ’n werklikheid te laat word.

Hy sê dat hierdie projek volhoubare produksiegeleenthede vir gemeenskappe bied soos nog nooit tevore nie. “Dit kan tussen 50 en 65 werksgeleenthede per projek skep en bied ’n kans op inkomste wat ’n kombinasie van voedselproduksie en die opwekking van energie is. As dit gekombineer word, word die risikofaktore beduidend minder."

“Die voordele vir burgers en die plaaslike regering is eindeloos! Hierdie projek sal gemeenskapsdeelname op ’n breë basis moontlik maak met langtermyneienaarskap, volhoubare voedsel- en energieproduksie en werksekerheidsvoordele met ’n sterk opleidingskomponent aan dié wat dit die nodigste het,” voeg Schrum by.

Die Voedsel & Energie-projek is die eerste van sy soort in Afrika, en SUNfarming se doelwit is om hierdie projek na alle universiteite en skole in Afrika uit te brei. SUNfarming en die NWU wil dan die hart van kundigheid met betrekking tot navorsing, opleiding en ondersteuning vir hierdie universiteite wees.

Dit bied aan plaaslike regerings en maatskappye die geleentheid om betrokke te raak by die uitbreiding van hierdie Voedsel & Energie-aanlegte na landelike gemeenskappe as deel van hulle korporatiewe maatskaplike verantwoordelikheid en die strewe om ekonomiese groei te stimuleer.

“Deur samewerking met opvoedkundige instellings in Afrika wil ons die voorbereidingswerk vir toekomstige beleggings doen en gesamentlike ondernemings tussen ons maatskappygroep en plaaslike gemeenskappe in julle land vestig,” sê Schrum.

Statistiek toon dat een uit elke agt mense elke aand honger gaan slaap, en in die meeste Afrika-lande is een uit elke drie kinders ondergewig. Die lewering van voedsel is slegs ’n tydelike oplossing. ’n Meer permanente en volhoubare oplossing is om aan mense die middele te gee om self voedsel te produseer. Die Voedsel & Energie-inisiatief streef daarna om juis dít te doen.

“Ons verskaf energie aan gemeenskappe waar dit werklik nodig is, terwyl voedselsekerheid prioriteit geniet. Deur hierdie inisiatief skep ons ook die platform vir meer werksgeleenthede, en bied aan mense die geleentheid om hulleself beter op te voed. Beleggers uit die privaat en die openbare sektor het ’n unieke geleentheid om betrokke te raak, armoede te verlig en tot die welsyn van burgers van die Afrika-kontinent by te dra,” sluit Schrum af.   

Peter Schrum, stigter van SUNfarming, word hier saam met die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, mnr Senzeni Zokwana, en prof LJ Grobler, dekaan van die NWU se Fakulteit Ingenieurswese, gesien.

Begunstigdes en werkers van die NWU se SUNfarming-projek besig om hulle groente te versorg.