NWU se sonkar vuur inspirasie onder die jeug aan

Marelize Santana -- Thu, 10/04/2018 - 12:30

NWU se sonkar vuur inspirasie onder die jeug aan

Twee vlieë met een klap: ʼn viering van die Noordwes-Universiteit (NWU) se sonkarsukses, en ʼn belegging in die leiers van môre.

Leerders uit die Potchefstroom-gebied het onlangs by personeel en studente van die Fakulteit Ingenieurswese aangesluit om die onlangse sukses van die Phoenix ná die Sasol Solar Challenge te vier.

By die terugkeer vanaf dié uitmergelende wedren regoor Suid-Afrika, het meer as 40 leerders van die Ikageng-, Promosa- en BA Seobi-sekondêre skole die sonkarspan verwelkom.

Die Phoenix het aan die onlangse 2018 Sasol Solar Challenge deelgeneem. Die NWU was die tweede Suid-Afrikaanse span om die wenstreep oor te steek en het in die algehele vyfde plek geëindig.

Prof Liezl van Dyk, dekaan van die fakulteit, het die leerders verwelkom, waarna hulle meer van die verskillende studierigtings in ingenieurswese gehoor het.

CP Kloppers, 'n dosent in meganiese ingenieurswese, het hulle meer vertel oor die ontwerp, wetenskap en tegnologie wat die ses maande lange vervaardigingsproses van die sonkar behels het.

Leerders het die geleentheid gekry om, onder leiding van dosente, hul eie miniatuur-sonkar te bou. Hulle is ook aan rekenaaringenieurswese bekendgestel deur ‘n rekenaarspeletjie te speel oor 'n sonkar se wedren teen tyd en mededingers.

Hulle is met 'n lekker middagete bederf, waar die opwinding van die aankoms van Phoenix begin opbou het. Ná groot afwagting, het hulle uiteindelik die sonkar gesien en die span ontmoet.

Hierdie ruimteagtige voertuig wat sonder enige fossielbrandstowwe kan ry, het hul belangstelling behoorlik geprikkel. Interessante inligting, statistieke en prestasievermoë is met die gehoor gedeel, waarna 'n demonstrasie oor hoe die motor werk, gevolg het.

Prof Fika Janse van Rensburg, adjunk-visekanselier bedrywighede op die Potchefstroomkampus, het die leerders aangemoedig om verder te studeer en het beklemtoon hoe belangrik dit is om hul drome na te jaag.

“Sonder ingenieurs sal die wêreld tot stilstand kom. As jy enigsins belang stel in dit wat jy vandag gesien het, moedig ek jou aan om die volle 100% van dit waartoe jy in staat is, te word,” het hy gesê.

“Leer hard, fokus op jou drome en doen jou uiterste bes om te kwalifiseer vir tersiêre opleiding. Jy sal nooit spyt wees oor harde werk wat beloon nie.”

Prof Fika Janse van Rensburg, adjunk-visekanselier bedrywighede op die Potchefstroomkampus, verduidelik die belangrikheid van tersiêre onderwys aan leerders.