NWU se Regsfakulteit hou galadinee

Belinda Bantham -- Fri, 11/15/2019 - 14:33

NWU se Regsfakulteit hou galadinee

Die Noordwes-Universiteit (NWU) se Fakulteit Regte het onlangs ’n feestelike galageleentheid in Potchefstroom gehou, waar studente, personeel, alumni, en belanghebbers die dertigste herdenking van onder andere die Konvensie oor die Regte van die Kind gevier het.

Die eerste dag van November was waarlik ’n aand om te onthou.  Vroue was in pragtige uitrustings geklee, terwyl die mans hulle beste pakke ten toon gestel het.

Die adjunk-visekanselier vir Potchefstroomkampusbedrywighede, prof Daryl Balia, het almal verwelkom en die fakulteit geloof vir sy maatskaplikegeregtigheidsprogramme, en die manier waarop elke personeellid onverpoosd gewerk het om die volle akkreditasie van die NWU se LLB-program by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding moontlik te maak.

“Met volle akkreditasie wat nou verkry is, is die onsekerheid en stres iets van die verlede,” het prof Balia gesê.

Julle pogings word raakgesien

Die agbare regter-president Monica Leeuw, die eerste vroulike regter-president in die land, was die gasspreker. Sy het gesê dat sy al ’n hele aantal prokureurs in haar hof teëgekom het wat NWU-alumni is, en wat kinders se sake met passie hanteer, en betekenisvolle werk doen om die universiteit te verteenwoordig.  

Sy het die fakulteit vir sy regsklinieke geloof, en dat hy sigbaar teenwoordig is in die gemeenskap waar verskeie maatskaplike tekortkominge hanteer word. “Die NWU se pogings gaan nie ongemerk verby nie,” het sy bygevoeg.

Welstandsfonds vir regstudente

Die fakulteit het ook tydens die galageleentheid sy welstandsfonds vir regstudente bekendgestel. Die doel van die fonds is om die lewe ’n bietjie makliker te maak vir regstudente wat finansieel swaarkry deur hulle met hulle buitekurrikulêre behoeftes te help.

Die fonds is gestig nadat die fakulteit ’n opname onder studente uitgevoer het wat aangedui het dat die meeste studente dit moeilik vind om hulle uitgawes vir dinge soos kos en kruideniersware, voorgeskrewe handboeke, verblyf, vervoer, drukkoste en IT-hulpmiddels (harde- sowel as sagteware en data) by te bring.

“Die welstandsfonds vir studente is vir die fakulteit belangrik – ons wil verseker dat al ons studente in die beste posisie geplaas word om ’n sukses van hulle studies te maak,” sê prof Stephen de la Harpe, die uitvoerende dekaan.

“Ons kan dit slegs met die hulp van ons alumni en ander borge regkry. Alle bydraes word waardeer en sal beslis ’n verskil maak,” het hy bygevoeg.

Nadat sy haar eie donasie gemaak het, het regter-president Leeuw alumni en belanghebbers wat teenwoordig was, aangemoedig om hulle harte oop te maak en iets vir die welstandsfonds vir regstudente by te dra.

Die fakulteit het ook tekeninge van jong kinders van verskeie skole in die Dr Kenneth Kaunda-distriksmunisipaliteit tydens die geleentheid opgeveil en die opbrengs daarvan is aan die fonds geskenk.

 Hier is prof Stephen de la Harpe, uitvoerende dekaan van die Fakulteit Regte, saam met prof Daryl Balia, adjunk-visekanselier vir Potchefstroomkampusbedrywighede, en mnr Nkosinathi Tom, uitvoerende persoonlike assistent van prof Dan Kgwadi, visekanselier.