NWU se prof Phaswana-Mafuya op die NNS-raad aangestel

Belinda Bantham -- Thu, 08/01/2019 - 14:40

NWU se prof Phaswana-Mafuya op die NNS-raad aangestel

Die Noordwes-Universiteit (NWU) is trots daarop dat akademici in hulle diens nie net die bestes in hulle vakgebiede is nie, maar dat hulle ook vasberade is om ’n verskil in die samelewing te maak.

’n Positiewe bewys hiervan is dat die Minister van Wetenskap en Tegnologie onlangs die NWU se adjunkvisekanselier vir navorsing en innovasie, prof Refilwe Phaswana-Mafuya, as lid van die Nasionale Navorsingstigting (NNS) se raad aangestel het.

 “Ek is baie bevoorreg en geseën om hierdie geleentheid te kry om my land te dien,” sê prof Phaswana-Mafuya. “Ek sien daarna uit om met die NNS saam te werk om sy mandaat te bereik, en ek bedank die NWU van harte dat hulle my in staat stel om dit te doen.”

Sy het haar rol as raadslid in April 2019 aanvaar en sal tot September 2022 in hierdie hoedanigheid optree.

Prof Phaswana-Mafuya dien ook as lid van die raad se subkomitee vir navorsingskapasiteitsontwikkeling, waar sy ’n bydrae sal lewer tot die ontwikkeling van strategieë vir navorsingsloopbaanontwikkeling vir vroeëloopbaannavorsers.

Tydens haar vierjaartermyn sal sy ook help om bewysgebaseerde oplossings te genereer om dringende maatskaplike probleme te hanteer, asook om ’n bydrae tot die bou van navorsingskapasiteit onder jongmense te lewer.

 “Ek glo vas daaraan dat die toekoms van ons land en van wetenskap afhang van die belegging wat ons vandag in ons jongmense maak. Hulle is die mense wat die opwindende geleenthede en moontlikhede moet aanpak wat die vierde nywerheidsrevolusie gaan bring,” voeg sy by.

Haar persoonlike doelwitte

Benewens haar mandaat wil prof Phaswana-Mafuya hierdie platform gebruik om ’n rolmodel en mentor vir opkomende wetenskaplikes en swart vroue te wees.

 “Ek wil hulle inspireer en laat besef dat daar geen beperkings is op dit wat hulle kan word nie, solank hulle gewillig is om hard te werk.”

Sy voeg by dat die hoofrede waarom sy ’n mentor vir opkomende wetenskaplikes wil wees, is omdat sy persoonlik die ware waarde van mentorskap verstaan, aangesien sy self deur talle onselfsugtige mentors in Suid-Afrika en regoor die wêreld geïnspireer is.

Die NWU loof prof Phaswana-Mafuya dat sy benoem is om op die NNS-raad te dien. Ons wens haar alles van die beste toe vir haar reis om ’n bemagtigende omgewing te skep vir die genereer van broodnodige kennis om ons nasionale ontwikkelingsdoelwitte te hanteer.

 


Prof Refilwe Phaswana-Mafuya.

#NWUVroue