NWU se Leopards Lair-kompetisie: aandag alle entrepreneurs!

Marelize Santana -- Thu, 05/09/2019 - 14:28

NWU se Leopards Lair-kompetisie: aandag alle entrepreneurs!

Het jy wat nodig is om die luiperd in sy lêplek aan te durf en jou man (of vrou) as jong entrepreneur te staan? Indien wel is die Noordwes-Universiteit (NWU) se gewilde Leopards Lair-kompetisie net die ding vir jou!

Die kompetisie word hierdie jaar die derde keer aangebied, en studente van regoor die NWU se geografiese voetspoor – en hulle eweknieë van die Vaal Universiteit van Tegnologie (VUT) – tree na vore en bied hulle entrepreneursidees aan met die hoop om in R100 000 se pryse te deel.

Meer oor die kompetisie

Aan die hoof van die kompetisie is die NWU se bhive EDC, en die kompetisieformaat is gegrond op soortgelyke nasionale en internasionale sake-uitdagings soos Shark Tank en Dragon’s Den. Die kompetisie strek oor twee semesters om deelnemers genoeg tyd te gee om aan hulle sake-aanbieding te werk, terwyl hulle baat by verskeie werkswinkels wat daarop gemik is om hulle akademiese en praktiese begrip van entrepreneurskap te verbeter.

Die kompetisie sal oor verskeie rondtes beslis word, waartydens die deelnemers die geleentheid het om hulle telkaarte te bestudeer sodat hulle hul prestasie kan moniteer. In die eerste rondte van die kompetisie sal ’n totaal van 60 studente – wat al drie die NWU se kampusse sowel as die VUT verteenwoordig – gekies word om deel te neem.

Hierdie deelnemers sal dan hulle idee of konsep voorlê, waarna 40 studente genooi sal word om aan die sakemodel-fase van die kompetisie deel te neem. Twintig studente sal na die volgende rondte deurdring, waartydens hulle ’n video-aanbieding moet saamstel en teen mekaar te staan kom. Van daar af sal twaalf deelnemers voor ’n onafhanklike paneel van sake-eienaars, beleggers, suksesvolle entrepreneurs en akademici verskyn om om ’n plek op die wennerspodium mee te ding.

Die waarde van entrepreneurskap vir jong gegradueerdes

Volgens Johann Landsberg, Bestuurder: bhive EDC, bevorder die NWU aktief entrepreneurskap as ’n innoverende loopbaanalternatief vir gegradueerdes. Hoewel die privaat en openbare sektor die laaste ruk al hoe meer die uitdaging aanvaar om ’n meer bevorderlike omgewing vir beginner-entrepreneurs te bevorder, het talle opkomende entrepreneurs nog ’n aantal uitdagings om te oorkom.

“Deur inisiatiewe soos hierdie kompetisie wil die NWU ’n paar van hierdie uitdagings op ’n proaktiewe manier die hoof bied,” sê Johann. Hy voeg by dat bemagtigde entrepreneurs ingeligte en kreatiewe besluite kan neem wat ’n positiewe impak op Suid-Afrika se stram ekonomie sal hê. Kortom: ’n entrepreneursingesteldheid sal in die toekoms in die immerveranderende werksomgewing ’n noodsaaklike kommoditeit wees.  

Registreer vir die kompetisie

Belangstellende studente moet die kompetisie se webblad besoek, of ’n e-pos stuur aan bhive@nwu.ac.za. Inskrywings sluit op 22 Julie 2019.