NWU se Janneman wys weer waarvan hy gemaak is

Belinda Bantham -- Thu, 08/01/2019 - 10:47

NWU se Janneman wys weer waarvan hy gemaak is

Reeds as student moes die Noordwes-Universiteit (NWU) vir Janneman Malan ’n spesiale “reiskaartjie” uitreik, want al wat krieketbal is, het hy grenslyn toe gepos.

Die vurige haarklou-kolwer het onlangs weer sy emmersvol talent gewys toe hy die Opkomende Proteas gehelp het om ʼn 1-0 reeksoorwinning teen Sri Lanka in Pretoria te behaal.

Sy berekende 84 van 162 aflewerings was die hoogste telling van die kragmeting en het ʼn gelykopuitslag verseker. Die Proteas het die eerste vierdag-wedstryd gewen.

Die 23-jarige Janneman, wat in Nelspruit gebore is, het in Februarie vanjaar sy buiging as aanvangkolwer vir die Proteas se T20 span teen Pakistan gemaak. Hy het 33 lopies in sy eerste vertoning vir die nasionale span aangeteken en twee lopies in die tweede T20 in Centurion.

Gedurende sy loopbaan by die NWU het hy verskeie hoogtes bereik, soos toe hy gedurende die Red Bull Kampuskrieket Wêreldeindronde in Colombo, Sri Lanka 259 lopies aangeteken het.

Dit was die meeste lopies in die toernooi, en boonop is hy as die toernooi se waardevolste speler aangewys. Belangriker nog – hy het die NWU gehelp om die toernooi te wen en as die wêreld se beste universiteitspan gekroon te word.  

Janneman was ook een van die NWU se groot staatmakers tydens die 2017 Varsity-kriekettoernooi.  Buiten dat die span as oorwinnaars koning gekraai het, was sy 13 sesse die meeste tydens die toernooi.

Deesdae noem hy die Kaap tuiste waar hy vir die Cape Cobras hul beurte voor die paaltjies begin.  

Foto: NWU-spanmaats Janneman Malan (links) en Ruan Haasbroek (regs). Die veelsydige Ruan het ook soos Janneman vir die Noordwes Drake uitgedraf.

NWU-spanmaats Janneman Malan (links) en Ruan Haasbroek (regs). Die veelsydige Ruan het ook soos Janneman vir die Noordwes Drake uitgedraf.