NWU se jaarlikse Loopbaanuitstalling ’n reusesukses

Belinda Bantham -- Wed, 05/30/2018 - 15:28

NWU se jaarlikse Loopbaanuitstalling ’n reusesukses

Die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Potchefstroom het onlangs sy jaarlikse Loopbaanuitstalling aangebied. Die Rekeningkunde-uitstalling het op 8 Mei plaasgevind, die Algemene Uitstalling op 9 Mei en die Regte-uitstalling op 10 Mei 2018.

Studente baat by loopbaanuitstallings omdat dit hulle die geleentheid gee om eerstehands inligting te kry en een-tot-een-interaksie met werkgewers te hê. Hierdie interaksie verskaf aan studente insiggewende inligting oor potensiële werksgeleenthede, en as hulle behoorlik vir ’n loopbaanuitstalling voorberei, sal hulle die volle voordeel daarvan geniet.

 “Loopbaanuitstallings gee studente ’n blik op wat hulle toekoms moontlik kan inhou. Dit is ’n persoonlike en regstreekse manier vir studente om leiding te kry terwyl hulle met hulle studies voortgaan,” sê mnr Thoriso Maseng, bestuurder van die NWU Loopbaansentrum.

’n Totaal van 124 maatskappye het die loopbaanuitstallings bygewoon wat op die kampusse in Vanderbijlpark, Mahikeng en Potchefstroom aangebied is.

 “Ons kry wel terugvoer van werkgewers sowel as studente tydens die uitstallings,” sê Thoriso. “Die maatskappye is gelukkig met die vlak van betrokkenheid en glo dat ons studente meer interaktief is vergeleke met studente van ander universiteite. Die uitstekende opkoms van maatskappye getuig van die sukses van hierdie geleenthede.”