NWU se IT-uitnemendheid verseker optimale spoed

Belinda Bantham -- Mon, 11/27/2017 - 12:36

NWU se IT-uitnemendheid verseker optimale spoed

Internetspoed by die Noordwes-Universiteit (NWU) is van die vinnigste in Suid-Afrika. Dit is volgens die IT-nuuswebwerf MyBroadband, wat sê dat die NWU vir Oktober die universiteit met die tweede vinnigste internet in die land is. Asof dit nie genoeg is nie, kry die NWU ook krediet daarvoor dat hulle die vierde vinnigste internet onder alle tipes Suid-Afrikaanse organisasies het.

“Die NWU is baie trots daarop dat MyBroadband se spoedtoets die NWU onder die bestes plaas. Betroubare en vinnige internet vir almal is die fundamentele boublok om IT se missie te bewaarheid om vanaf ’n laewaarde-ondersteuningsfokus na ’n hoër funksioneringsvlak te beweeg ten opsigte van besigheidswaarde vir navorsing en onderrig en leer,” sê mnr Boeta Pretorius, die universiteit se hoofdirekteur vir IT.

Hy sê dat IT innovering wil stimuleer en die NWU op die voorpunt wil hou. “Vinniger internet is ’n waardevolle instrument om dit te help bereik. Ek is trots daarop om deel te wees van ’n sterk span wat dit moontlik maak.”

Volgens die MyBroadband-webwerf, https://mybroadband.co.za/, word spoedtoetse deur twee bedieners gedoen, een in Kaapstad en die ander een in Johannesburg, om ’n neutrale toetsomgewing te verseker. Hulle twee spoedtoetsbedieners is onlangs opgegradeer om konnektiwiteit van tot 10 gbps (gigagreep per sekonde) te ondersteun.

Die NWU se bandwydte het met die Oktober-spoedtoets 2 245 674 kbps (kilogreep per sekonde) bereik om af te laai en 1 331 251 kbps om op te laai. Die universiteit met die vinnigste internetspoed, Universiteit Stellenbosch, het 2 874 602 kbps vir aflaai en 838 859 kbps vir oplaai bereik. Derde op die lys was die Universiteit van Johannesburg, met 998 800 kbps vir aflaai en 995 500 kbps vir oplaai.

“Om onder die maatskappye in die land te wees met die hoogste internetspoed, plaas die NWU in ’n eksklusiewe klub. Vinnige en betroubare internet is boaan die lys wat studente se behoeftes betref,” sê mnr Wilhelm van Belkum, direkteur vir IT: Bedryf en Infrastruktuur.

Die NWU is een van slegs ’n handjievol universiteite wat onbeperkte en ongevormde bandwydte vir alle studente en personeel verskaf, terwyl dit steeds bekostigbaar is en hoë werksuitset bied. Dit stel navorsers in staat om die digitale gaping te oorbrug en nie deur koste verswelg te word nie. Die universiteit bevorder ook digitale innovering deur onbeperkte stoorplek in die wolk en e-posgeriewe aan alle universiteitsgebruikers te verskaf.      

Wilhelm sê dat die NWU daarvoor bekend is dat hulle IT-uitnemendheid lewer. Die universiteit het sedert 1987 ’n trotse geskiedenis van baanbrekende IT en internet. “Die heel eerste internetboodskap in Suid-Afrika is tussen die NWU en Rhodes Universiteit gestuur. Die NWU is ook die grootste gebruiker van internet as dit teen ander universiteite gemeet word,” sê hy met trots.