NWU se innoverende nuwe konferensie gaan alles oor navorsingsuitnemendheid

Belinda Bantham -- Mon, 11/05/2018 - 09:34

NWU se innoverende nuwe konferensie gaan alles oor navorsingsuitnemendheid

Die Noordwes-Universiteit (NWU) se eerste tweejaarlikse Navorsing en Innovasie-konferensie beloof om ’n ongeëwenaarde gebeurtenis te wees. Die konferensie is vir navorsers, deur navorsers en met navorsers, en is ’n splinternuwe hoogtepunt op die NWU se kalender.

Die belangrikheid van navorsing en innovasie, nie net as integrale deel van elke universiteit nie, maar ook vir die vind van oplossings op uitdagings wat Suid-Afrika en die wêreld in die gesig staar, kan nie oorbeklemtoon word nie. Dit is waarom hierdie konferensie nie misgeloop moet word nie.

NWU se navorsers sal die geleentheid hê om te deel, te leer en al die wonderlike navorsings- en innovasiewerk uit te ruil wat institusionele, nasionale en internasionale toekennings aan die universiteit se navorsers besorg het. Fakulteitsuitstallings sal ook regdeur die drie dae lange konferensie te sien wees.

Die tema vir hierdie jaar se geleentheid is: Die posisionering van die NWU vir navorsings- en innovasie-uitnemendheid, sigbaarheid en impak: die maksimalisering van suksesse, sterk punte en geleenthede.

Sy majesteit Kgosi Leruo Molotlegi van die Koninklike Bafokeng-nasie en kanselier van die NWU, lewer die eerste openingstoespraak. ’n Paar van die hoog aangeskrewe sprekers is onder andere prof Ahmed Bawa, hoof uitvoerende beampte van Universiteite Suid-Afrika, me Ruth Roberts-Chen van die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding, prof Jonathan Jansen, voorsitter van die Akademie vir Wetenskap van Suid-Afrika, en mnr Imraam Patel, adjunkdirekteurgeneraal van die Departement van Wetenskap en Tegnologie.

Alle NWU-navorsers word aangemoedig om te registreer. Die konferensie vind vanaf 27 tot 29 November 2018 by die Sanlam-ouditorium op die NWU se kampus in Potchefstroom plaas. Vir meer inligting, skakel Doret Kruger by 018 299 4933 of stuur ’n e-pos aan doret.kruger@nwu.ac.za om te registreer.