NWU se grafiese ontwerp nommer 1 in Suid-Afrika

Belinda Bantham -- Fri, 12/08/2017 - 08:49

NWU se grafiese ontwerp nommer 1 in Suid-Afrika

Die Noordwes-Universiteit (NWU) is aangewys as die beste tersiêre instelling in Suid-Afrika wat opleiding in grafiese ontwerp betref. Dit is maar een van die talle toekennings wat NWU Grafiese Ontwerp by hierdie jaar se Pendoring-toekennings ontvang het.

Die universiteit het drie silwer toekennings gewen by dié jaarlikse kompetisie, wat aan die beste pogings in die bevordering en stimulering van reklame in al Suid-Afrika se inheemse tale erkenning gee.

In die afgelope paar jaar het die NWU se studente in grafiese ontwerp konstant die topposisies behaal, nie net by die Pendoring-toekennings nie, maar ook in ander kompetisies soos die Loerie-toekennings. Dit toon hulle wonderlike talent en die vaardighede wat hulle deur hulle studies by die NWU verwerf het.

Volgens die Pendoring-toekennings se webwerf word die top tersiêre instelling bepaal deur die prestasie van die finaliste in ag te neem. Die wenner word bepaal met ’n puntetelling wat bereken word volgens die getal kategorietoekennings (vernuf, vernuf goud, goud, silwer, prestige en openbare diens) wat die deelnemers ontvang het.

Die NWU het 26 punte in die 2017 Pendoring-toekennings ontvang, gevolg deur Greenside Design Center College of Design met 20 punte en Stellenbosch Academy of Design and Photography met 18 punte.

Volgens die toekennings se webwerf is die voordeel van die Pendoring-ranglys dat dit ’n duidelike en bondige oorsig van die prestasie van al die agentskappe, produksiehuise, tersiêre instellings en reklameskole gee. Die ranglys word onafhanklik opgestel, met geen skakels met enige ander plaaslike kreatiewe ranglyste nie.

“Ons is baie trots op al ons studente, veral die vierde- en derdejaarstudente wat deurlopend in hierdie nasionale kompetisies goed presteer het,” sê mnr Héniel Fourie, vakhoof van Grafiese Ontwerp.

Hy sê NWU Grafiese Ontwerp het 16 inskrywings by hierdie jaar se Pendorings gehad. Drie van hulle het Silwer Pendoring-toekennings ontvang. “Ons studente gebruik indrukwekkende narratiewe in hulle ontwerpe. In ons opleiding van nuwe grafiese ontwerpers probeer ons om hulle te bemagtig om hulle idees na hoër vlakke van kreatiwiteit te voer.”

NWU Grafiese Ontwerp het ’n toegewyde span van ses talentvolle dosente en was bevoorreg om in 2017 ’n dinamiese groep van 143 studente te hê. “Dit is deur almal se pogings dat NWU Grafiese Ontwerp voortgaan om in Suid-Afrika en elders te skitter,” sluit hy af.