NWU se geesteswetenskappe kry erkenning in wêreldranglyste

Belinda Bantham -- Thu, 10/31/2019 - 10:28

NWU se geesteswetenskappe kry erkenning in wêreldranglyste

Die Noordwes-Universiteit (NWU) was nog altyd trots op sy prestasie volgens internasionale en nasionale ranglyste. Hierdie ranglyste is goeie maatstawwe vir die vergelyking van die gehalte van onderrig aan die universiteit met dié van ander universiteite, plaaslik en in die buiteland.

Die jongste ranglysuitslae deur Times Higher Education World University Rankings is ’n bewys dat die NWU nie teleurstel wat gehalte-onderrig betref nie.

Die ranglysmaatskappy het die NWU in die 401+-groep uit 536 internasionale universiteite op die ranglys vir vakke in die kunste en geesteswetenskappe geplaas. Dié ranglys, wat vroeër hierdie maand gepubliseer is, lig universiteite uit wat die voorstes is in vakke in kuns, uitvoerende kunste, ontwerp, tale, taalkunde, letterkunde, geskiedenis, filosofie, teologie, argitektuur en argeologie.  

Dit is ’n betekenisvolle prestasie as daar in ag geneem word dat die NWU teen bekroonde internasionale universiteite soos onder andere Stanford Universiteit en die Universiteit van Cambridge gemeet word.

Times Higher Education sal later hierdie jaar die vakgraderings vir ander vakgroepe publiseer, insluitende vir ingenieurswese en tegnologie, sosiale wetenskappe, besigheid en ekonomie, opvoedkunde, die regte en lewenswetenskappe.

Die maatskappy gebruik 13 noukeurig-gekalibreerde prestasie-aanwysers wat ’n instelling se prestasie ten opsigte van onderrig, navorsing, kennisoordrag en internasionale beskouing meet.

Die graderings word onafhanklik deur die professionele diensfirma PricewaterhouseCoopers geouditeer.

Die NWU vaar konsekwent goed in die graderings. Die universiteit is oorkoepelend in die vyfde posisie in Suid-Afrika. Die NWU is wêreldwyd tussen posisie 501 en 600 uit die 1 396 deelnemende universiteite geplaas.   

Volgens die wêreldwye Academic Ranking of World Universities spog die NWU ook met verskeie akademiese programme binne die top-500, top-400 en top-100 in die wêreld. Hierdie bepaalde rangordestelsel bestaan uit 1 600 universiteite uit 83 lande. Die NWU se topprogramme is geografie, sielkunde, omgewingswetenskappe, wiskunde, politieke wetenskap, opvoedkunde, ingenieurswese, toerisme en rekeningkunde.

Die US News en World Reports 2020 se rangorde vir die beste wêreldwye universiteite plaas die NWU onder die sewe topuniversiteite in Suid-Afrika. Die NWU het vanaf die 708ste wêreldwye plek verlede jaar na die 645de plek opgeskuif.

 Dit is ’n merkwaardige prestasie, aangesien hierdie spesifieke ranglys die top-1 500-instellings uit 81 lande insluit.  

Prof Linda du Plessis, adjunkvisekanselier vir beplanning en Vanderbijlparkkampusbedrywighede, sê die NWU het ’n sterk verbintenis tot maatskaplike geregtigheid. “Die feit dat ons prestasie internasionaal erken word, is ’n positiewe teken van die relevansie asook die hoë standaard van die akademiese prestasies, terwyl studente vir ’n wêreldwye toekoms voorberei word.”

Prof Dan Kgwadi, visekanselier, sê dat dit deur prestasies soos hierdie is dat die NWU sy plek onder die voorste instellings vir hoër onderrig kan inneem.

 

Vir meer inligting besoek https://www.timeshighereducation.com/world-university-rankings/2020/subject-ranking/arts-and-humanities