NWU se AVK vir navorsing en innovasie is die voorsitter van die SA Vigs-konferensie

Belinda Bantham -- Thu, 04/05/2018 - 16:01

NWU se AVK vir navorsing en innovasie is die voorsitter van die SA Vigs-konferensie

Prof Refilwe Phaswana-Mafuya, die Noordwes-Universiteit (NWU) se adjunk-visekanselier vir navorsing en innovasie, gaan by een van die grootste konferensies in Afrika suid van die Sahara, die 2019 SA Vigs-konferensie, as voorsitter optree.

Dira Sengwe, die nie-regeringsorganisasie wat die konferensie gaan aanbied, het prof Phaswana-Mafuya op grond van haar kundigheid en kennis op hierdie gebied aanbeveel.

“Ek voel werklik geëerd dat ek genader is om te dien as die voorsitter van hierdie besondere konferensie wat ’n baie belangrike kwessie in ons samelewing en die wêreld gaan hanteer.”

“Dit is ’n groot eer vir die NWU,” sê prof Phaswana-Mafuya. “Die konferensie sal aan ons die geleentheid gee om saam met spanne kollegas aan die verskillende aspekte van die konferensie te werk. Dit sluit in om in die organisasie en op die wetenskaplike komitee te dien, wetenskaplike ondersoeke te doen, die voorsitter van sessies te wees, plakkate voor te lê en referate te lewer.”

Prof Phaswana-Mafuya se pligte as voorsitter van die konferensie sal onder andere insluit die bestuur van die wetenskaplike inhoud van die gebeurtenis, om as voorsitter van vergaderings op te tree, op te tree as die openbare woordvoerder van die konferensie, die hoof- en ander sprekers te benoem, die konferensieprogram in samewerking met die konferensieprogramkomitee op te stel, en die kriteria vir die voorlegging en evaluering van opsommings te ontwikkel.

Die negende SA Vigs-konferensie vind van 10 tot 13 Junie 2019 in Durban plaas. Die konferensie is uiters gesog en ’n besondere byeenkoms van mense wat saam gesels en verbind is om MIV in Suid-Afrika en wêreldwyd te voorkom.

“Ek wil graag almal aanmoedig om hierdie datum aan te teken en om die konferensie by te woon, en te beplan om wetenskaplike referate tydens die konferensie te lewer,” voeg Prof Phaswana-Mafuya by.

Die agtste konferensie, wat in 2017 plaasgevind het, is deur meer as 2 000 afgevaardigdes uit Suid-Afrika, die SAOG, Europa, die VSA en ander dele van die wêreld bygewoon. Dit het 200 nasionale en internasionale sprekers betrek, 400 plakkaataanbiedings en 70 uitstallers gehad.

Prof Refilwe Phaswana-Mafuya.