NWU-professor as regter in die Hoë Hof aangestel

Belinda Bantham -- Tue, 11/19/2019 - 13:10

NWU-professor as regter in die Hoë Hof aangestel

Die Noordwes-Universiteit (NWU) se prof Elmarie van der Schyff van die Fakulteit Regte is as regter in die Gautengse afdeling van die Hoë Hof aangestel nadat president Ramaphosa haar aanstelling hierdie week bekragtig het.

Prof Van der Schyff het as waarnemende regter in die Gautengse afdeling van die Hoë Hof gedien, en is gedurende hierdie tydperk deur die Regterlike Dienskommissie vir een van die sewe vakatures in die Hoë Hof genomineer.

Hierdie moeder van drie en vrou van Fanie, ’n predikant in die Gereformeerde Kerk, is in Vereeniging gebore, waar sy ook grootgeword het. Sy het die Hoërskool Overvaal bygewoon en jaar tersiêre-onderrigstudies aan die voormalige PU vir CHO (nou die Noordwes-Universiteit) begin. Sy is in 2002 as voltydse dosent aangestel, en het haar LLM in 2003 en haar LLD in 2007 verwerf.

Sy is ’n natuurliefhebber wat aan die beginsel glo dat “almal voor die reg gelyk is”. Dit is ’n beginsel wat sy geleer het by haar pa, wat steeds op die ouderdom van 79 as prokureur praktiseer.

Prof Elmarie van der Schyff