NWU-personeel bedank vir sowat 3 700 diensjare

Bykans 3 700 jaar! Dit is die hoeveelheid diensjare waarvoor personeel van die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus op Potchefstroom en by die Institusionele kantoor onlangs vereer is.

Tydens die geleenthede is personeel bedank vir hulle harde werk, toewyding en omgee-gesindheid.

Prof Fika Janse van Rensburg, waarnemende rektor van die kampus, het gesê personeel se omgee- en handevat-gesindheid is kosbaar. “Bestuur is die afgelope tyd genoodsaak om verdeelde visie te hê om toe te sien dat die herstrukturering voortgaan en ons is so dankbaar dat personeel voorgegaan het met hulle kernbesigheid. Personeel kon seker in neutraal oorskakel, maar niemand het dit gedoen nie en die universiteit het net van krag tot krag gegaan.”

“Ek is net een persoon wat jou hand skud, maar dit is die hele universiteit wat omarm en baie dankie sê.”

Prof Martin Oosthuizen, adjunkvisekanselier vir onderrig en leer, het by die institusionele geleentheid gesê as ʼn spesiale groep mense wat reeds lank hier werk en die uitdagings van die universiteit ken, is hulle die beste mense om die leiding te neem om bestuur te help om die nuwe strategiese rigting te laat werk deur op die instansie se sterk punte te fokus en reg te stel waar sake skeef loop.

“ Hou asseblief aan om jou beste diens aan die instelling te lewer. Hou aan om die kritiese institusionele geheue van die NWU te wees en om die kampioene van ons gesamentlike visie en droom te wees. Help ons sodat ons saam in die jare wat voorlê ʼn beter NWU te kan bou.”

Mnr Stoffel Seleke van die vervoerafdeling op die kampus is die enigste ontvanger van ʼn oorkonde vir 45 jare diens. Sy kollegas het gesê hy is ʼn baie verantwoordelike en pligsgetroue man wat altyd vriendelik en behulpsaam teenoor almal is.

Vier personeellede is vereer vir 40 jaar diens, me Elizabeth Loate, me Anriëtte Joubert, mnr André Joubert en mnr Johannes Ntsie.

Altesame nege mense het hulle 35-jaar-toekenning ontvang, 14 het hul 30-jaar-toekenning ontvang, 11 hul 25-jaar-toekenning, 19 hul 20-jaar-toekenning, 68 hul 15 jaar-toekenning en 108 hul 10-jaar-toekenning.

 

Prof Fika Janse van Rensburg by mnr Stoffel Seleke, wat sy langdienstoekenning vir 45 jaar diens ontvang het.    Me Elizabeth Loate het haar 40-jaar-toekenning by prof Martin Oosthuizen, adjunkvisekanselier vir onderrig en leer, ontvang.

 

 

 Ontvangers van hul langdienstoekennings is van links mnr Danie Stoop (elektriese en elektroniese dienste – 25 jaar), prof Fika Janse van Rensburg (waarnemende kampusrektor), prof Luke Sandham (vakgroep geografie – 30 jaar) en prof Aubrey Golightly (opvoedingswetenskappe – 15 jaar).

 

Altesame vyf personeellede van die Institusionele kantoor het vanjaar afgetree, van links is Elza Moorcroft (16 jaar diens), Ria Robberts (23 jaar diens), Rina Scott (39 jaar diens) en Riaan van der Walt (32 jaar diens). Agter staan prof Martin Oosthuizen, adjunkvisekanselier vir onderrig en leer. (Mnr Willie Jansen van Vuuren met 11 jaar diens, was afwesig).

 

Submitted on Mon, 06/05/2017 - 11:08