NWU-opedae: ‘n kans om jou lewensreis te beplan

Belinda Bantham -- Mon, 06/03/2019 - 16:25

NWU-opedae: ‘n kans om jou lewensreis te beplan

Meer as 10 000 voornemende studente en hulle ouers het die 2019 weergawe van die Noordwes-Universiteit (NWU) se opedae van regoor die universiteit se drie kampusse bygewoon.

Dié jaar het die geleentheid op 11, 18 en 24 Mei in Potchefstroom, Vanderbijlpark en Mahikeng onderskeidelik plaasgevind.

Tydens sy verwelkomingstoespraak het prof Dan Kgwadi, NWU-visekanselier, gesê dat die jaarlikse opedae bo-aan die lys van die mees belangrike geleenthede op die universiteit se kalender is.

Volgens prof Kgwadi bied hierdie opedae voornemende studente die geleentheid om direk te deel in die verwesenliking van die NWU se droom – om ‘n internasionaal erkende universiteit in Afrika te wees, wat bekend is vir betrokke wetenskapsbeoefening, maatskaplike responsiwiteit en ‘n sorgsaamheidsetiek.

“Die doel van ons opedae is om jou te inspireer, en ek vertrou dat jou interaksie met ons jou sal oortuig dat om by die NWU te studeer vir jou die beste kans op lewenslange sukses sal bied,” het hy gesê.

Hy het bygevoeg dat hierdie jaar se tema – “Open Your Future” – nie net die NWU se missie om studente met die kennis, vaardighede en bevoegdheid toe te rus wat hulle nodig het om suksesvol te wees, reflekteer nie, maar ook verwys na die ervarings en geleenthede wat die volgende generasie reaktiewe, innoverende en sosiaalverantwoordelike individue sal vorm. 

Ter afsluiting het prof Kgwadi die voornemende studente daaraan herinner dat die NWU vir meer as 65 000 studente vanuit meer as 70 lande ‘n tuiste bied, en hulle uitgenooi om van hierdie diverse gemeenskap deel te word deur vir die 2020 akademiese jaar in te skryf.

Gedurende die opedae is voornemende studente op die kampus in Mahikeng gehelp om aanlyn aansoek te doen vir die 2020 akademiese jaar..

Voornemende studente het die geleentheid gehad om met verteenwoordigers van al agt fakulteite te gesels.

Die gelukbringers Vuvu en Eagi het die voornemende studente tydens die opedag in Vanderbijlpark ontmoet.