NWU ontgin nuwe hoop in Wes-Kaap se Delft-omgewing

’n Buitegewone navorser aan die Noordwes-Universiteit (NWU), dr Izanette van Schalkwyk, is die afgelope paar jaar besig om deur middel van verskeie navorsingsprojekte die lewens van inwoners van die geweldgeteisterde Delft-omgewing in die Wes-Kaap handomkeer te verander.

Dr Van Schalkwyk werk in die Sentrum vir Kinder-, Jeug- en Familiestudies van die NWU se navorsingsfokusarea Gemeenskaps- Psigososiale Navorsing (COMPRES). Sy fokus op positiewe sielkunde om oplewing, positiwiteit, hoop en sukses in die Delft-omgewing te bewerkstellig, en sy doen dit met reusesukses!

COMPRES se visie is om wetenskaplike en bewysgebaseerde navorsing binne gemeenskaps- psigososiale welstand in toepaslike Suid-Afrikaanse kontekste te doen om psigososiale welstand te verbeter.

“Positiewe sielkunde het te doen met die teenwoordigheid van welstand – dink aan ʼn blomtuin as ʼn voorbeeld,” sê dr Van Schalkwyk. “Ons doel is om die plante wat sukkel om te blom, so te versterk dat hulle later op ʼn volhoubare wyse kan floreer. Ons leer om interaksie te geniet, om die taal van positiwiteit aan te leer, te praat en te leef.”

Delft word geklassifiseer as een van die top-10 gevaarlikste woongebiede in Suid-Afrika. Dit word gekenmerk deur bendes, geweld, verkragtings, gebrekkige infrastruktuur, ʼn werkloosheidsyfer van meer as 67%, dwelmmisbruik en selfmoord.

“Delft is ʼn woonbuurt aan die voet van Tafelberg wat die samelewing vir die wolwe gegooi het. Dit is ʼn algemene verskynsel om wetstoepassers soos polisiebeamptes daagliks by laer- en hoërskole te sien patrolleer. Dit is hoe gevaarlik dit daar is!” verduidelik sy.

Dr Van Schalkwyk sê hulle het reeds in 2011 ʼn paar projekte met verskillende fokusareas begin om eers net die vertroue van die gemeenskap, die skole en leiers in die gebied te wen.

“Ons harde werk en toewyding is goed ontvang en ons is nou volstoom besig met verskeie projekte onder die vaandel van die Blue Bus Ministries, ʼn niewinsgewende organisasie. Hiermee skep ons ‘n platform vir leerders en hul ouers wat hulle help om bo hul omstandighede te kan uitstyg.”

Een van die projekte, die Prinsesklub, bemagtig swanger hoërskoolleerders met kennis oor die gevare van alkohol- en dwelmmisbruik tydens swangerskap. Sy noem dat sy op ʼn skool in die omgewing afgekom het met nie minder nie as 46 swanger leerders.

“Die meeste van hierdie meisies verval in ʼn gat van depressie en dra ʼn meulsteen van waardeloosheid om hul nekke. Ons ondersteun hierdie jong moeders om die lewe in die oë te kyk, op te staan en met harde werk ʼn doel na te streef. Heelwat van hierdie meisies het nadat hulle geboorte geskenk het, teruggekeer skool toe, en sommige van hulle is vandag studente aan tersiêre onderwysinstellings,” sê dr Van Schalkwyk trots.

’n Ander projek, die Koningsklub, is gemik op manlike leerders en fokus op die aanleer van positiewe manlikheids- en vaderskapseienskappe. Hierdie vaardighede word deur middel van kuns en beeldhouwerk oorgedra.

Sedert 2013 het dr Van Schalkwyk en haar span medewerkers ook ʼn leesklub vir laerskoolleerders op die been gebring. Hulle bied ʼn veilige omgewing in die Delft-area waar leerders ná skool kan kom huiswerk doen en hul leesvermoë verbeter.

“Die lokaas is dat ons ʼn omgewing bied waar kinders interaksie met mekaar kan hê, waar ons hulle verbeelding kan stimuleer en sommer net ʼn lekker tyd kan bied – weg van haglike omstandighede waar die meeste van dié kinders in vrees lewe.”

Dr Van Schalkwyk sê dié projek is so suksesvol dat verskeie ouers by haar aangeklop het met hulle behoeftes. Drie moederklubs, wat ouers deur mentorskap met verskeie vaardighede toerus, is so gewild dat hulle uit hulle nate bars as gevolg van die groot belangstelling.

Sy skryf die sukses van die verskillende projekte toe aan die harde werk van hulle groep van 50 projekleiers wat oplewing, hoop en vooruitgang met ʼn reusepassie aandryf.

“Dit is belangrik om die herhalende siklus van armoede, geweld en verwoesting in Delft te breek. Baie individue, hetsy leerders of ouers, het deur hierdie projekte besef dat dit wél in hulle steek om ʼn verskil in hulle eie lewens te maak. Hulle gebruik hul nare omstandighede as motivering vir ʼn beter lewe,” sê dr Van Schalkwyk.

Die beplanning om ʼn kompleks op te rig waar al hierdie projekte tot die volgende vlak geneem kan word, is reeds goed op dreef. Dr Van Schalkwyk se organisasie het reeds ʼn groot stuk grond in die Delft-omgewing bekom en bouwerk aan die Blue Bus Ministries-sentrum skop eersdaags af.    

Daar is soveel belangstelling in die drie moederklubs in Delft dat hulle uit hul nate bars. Hier word ouers deur middel van mentorskappe met verskeie vaardighede toegerus.

 

 

 

 

 

 

 

 

Submitted on Wed, 04/24/2019 - 10:30