NWU ondersteun internasionale MS-dag

Belinda Bantham -- Tue, 05/30/2017 - 14:40

NWU ondersteun internasionale MS-dag

ʼn Eerstejaarstudent van die Noordwes-Universiteit (NWU) wat ten spyte van ʼn ernstige terugslag in haar matriekjaar steeds agt onderskeidings behaal het, het onlangs ʼn spesiale boodskap met die gemeenskap gedeel.

Sam Pretorius (19) tans besig met haar BSc-graad in chemie en wiskunde, is verlede jaar met Veelvoudige Sklerose (MS) gediagnoseer. Sy het ten spyte van die newe-effekte van die behandeling haar matriek met vlieënde vaandels aan die Hoërskool Zwartkop in Centurion geslaag.

Sam het besluit om mense meer bewus te maak van MS in die week waartydens internasionale MS-dag (31 Mei 2017) gevier word. Sy het spesiale T-hemde met die woorde I am strong op die NWU se kampus in Potchefstroom versprei.

Lede van die kampusbestuur en die studenteraad was van die eerste mense wat sy vir dié doel genader het.

Sam is ʼn inwoner van Minjonet-dameskoshuis.

 Lede van die bestuur en die studenteraad op die NWU se kampus in Potchefstroom saam met Sam Pretorius. Van links is Theo Cloete, Danie Stoop, Sam, prof Fika Janse van Rensburg (waarnemende rektor), prof Rikus Fick, Marelize de Lange en Paul Maritz (studenteraadsvoorsitter).