NWU onder die top-5 SA universiteite op ranglys vir ontluikende ekonomieë

Marelize Santana -- Thu, 02/20/2020 - 13:14

NWU onder die top-5 SA universiteite op ranglys vir ontluikende ekonomieë

Die Noordwes-Universiteit (NWU) se volgehoue goeie prestasie in graderings is verder bevestig met ’n top-5-posisie onder plaaslike universiteite wat op die Times Higher Education (THE) se jongste ranglys vir universiteite in ontluikende ekonomieë verskyn.

Dit volg nadat die NWU ook in November verlede jaar op die THE se World University Rankings van die plaaslike universiteite in die top-5 en top-7 vir regstudies en besigheidsekonomie onderskeidelik geplaas is. Die THE het die jongste rangorde op 18 Februarie aangekondig.

Die NWU is oorkoepelend in posisie 109 uit 533 universiteite uit 47 lande geplaas. Benewens die NWU is daar ook nege ander Suid-Afrikaanse universiteite op die ranglys.

Hoewel die THE dieselfde 13 noukeurig-gekalibreerde prestasieaanwysers gebruik in hulle ranglys vir universiteite in ontluikende ekonomieë as wat hulle in hulle World University Rankings gebruik, is die gewigstoekenning anders om die ontwikkelingsprioriteite van universiteite in ontluikende ekonomieë te weerspieël. Dit verskaf die omvattendste en mees gebalanseerde vergelykings wat deur studente, akademici, universiteitsleiers, die bedryf en regerings vertrou word.

Hierdie prestasieaanwysers word in vyf gebiede gegroepeer: Onderrig (die leeromgewing); navorsing (volume, inkomste en reputasie); aanhalings (navorsingsinvloed); internasionale profiel (personeel, studente en navorsing); en bedryfsinkomste (kennisoordrag).

Hoewel China se prestasie die ranglys domineer, is Suid-Afrika die toppresteerder onder instellings in die top-200 gebaseer op lande se gemiddelde algehele telling. Suid-Afrika het ’n gemiddelde telling van 41,3 uit 100 behaal. Saoedi-Arabië, wat die eerste keer aan die gradering deelgeneem het, is tweede met ’n telling van 40,3.

Prof Linda du Plessis, adjunk-visekanselier vir beplanning en Vaaldriehoekkampus-bedrywighede, sê dat ’n hoëronderwysinstelling ’n bemagtiger vir ekonomiese groei is.

“Dit is dus van die uiterste belang dat die staatsbefondsing van studente as ’n goeie belegging beskou word. Die relevansie en gehalte van kwalifikasies is kritiek vir die oorlewing van universiteite in die 21ste eeu.” Sy sê dat internasionale erkenning as ’n aanwyser dien dat ons op die regte pad is.

Prof Dan Kgwadi, visekanselier, het beklemtoon dat hoewel gradering nie ’n doelwit is wat die universiteit najaag nie, die graderings bevestig dat die NWU op pad is om sy droom te verwesenlik om ’n internasionaal-erkende universiteit in Afrika te wees.

Vir meer inligting besoek:
https://www.timeshighereducation.com/world-university-rankings/2020/emer...